Tuesday 21 January 2020

As vandag die laaste is.


Die lewe is onvoorspelbaar en vol verrassings. Wat vandag sal bring is onbekend en al wat ons werklik kan beleef is die oomblik. Daar word gepraat van “the sacrament of the present moment” (Jean-Pierre de Caussade) om die belangrikheid van die hier en nou, teenswoordige, voorhande en relatief bekende te onderstreep.



Die oomblik gaan ongelukkig by die meeste van ons verby omdat ons die oomblik om wens, verwens en reg wens. Die oomblik is teleurstellend in terme van jou persoonlike verwagting en jy verplaas jou aandag iewers in die toekoms na waar dit meer ideaal sal wees. Die toekoms egter is ʼn hersenskim wat nie bestaan nie, dit is niks meer as ʼn teoretiese konstruk nie, dagdromery, ontvlugting, onwerklik en vlietend. Wat voorhande is wat saak maak wat nie beteken dat ʼn mens nie beplan of visioneer nie. Dit beteken net dat ʼn mens die enigste ware gawe wat jy het werklik inneem, beleef, geniet, waardeer en omhels. Dit vra vir ʼn ingesteldheid van erns met die lewe as kortstondige gawe van God. Die lewe is nie in ons beheer nie, elke asemteug is per die guns van God. So ook elke tree, sinvolle gedagte, handeling en woord. Ons het niks en is niks sonder en buite Christus nie. Hy is ons lewe. Hy is die inhoud, die sin, die betekenis, die rede, die oorsaak en Gawe.

Ek probeer baie bewustelik iets van die oomblik te beleef. Terwyl ek hierdie gedagtes tik word ek bewus van my een vinger vaardigheid op die sleutelbord. Ek is nogal vernuftig gegewe my beperkte vaardigheid. Ek verwonder my aan die gedagtes wat amper spontaan op die bladsy land. Ek sien die swart woorde op die wit papier en herinner myself aan ʼn praatjie wat wys op die spasies tussen die letters en woorde, dat ʼn mens dit ook moet interpreteer. Ek is nie op outomaties soos ons gewoonlik funksioneer nie maar ingetrek in die hier en nou.

Eckhart Tolle (The power of now) is ʼn begaafde skrywer, filosoof, denker en spreker. Dit is interessant om te hoor hoe hy praat. Stadig, afgemete, denkend, beredeneerd, netjies en kalm. Ek het nodig om iets daarvan in my lewe te integreer. Die rus van God. Die teenwoordigheid van sy Gees. Die oomblik, genotvol, betekenisvol, sinvol en te gou verby.

Kom ons help mekaar om iets van die oomblik vandag en elke dag te beleef.

Ek waardeer jou, hierdie oomblik.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment