Friday 17 January 2020

Jou fight maak ander seer.




Die onlangse gebeure met die voortgaande vyandigheid tussen die VSA en Iran is vars in die geheue. Die Amerikaners het dit goed gedink om ʼn hommeltuig moordaanval op ʼn senior amptenaar van Iran te doen. Die gespanne atmosfeer tussen die twee lande het verder eskaleer met Iran se missiele wat op Amerikaanse basisse in Irak afgevuur is. In die heen en weer bakleiery sterf 176 onskuldig passasiers toe ʼn straler deur Iran se missiele getref word.  Daaronder kinders en mense van verskillende lande.

Duisende mense se lewens word deur die gebeure geraak en treurendes, wesies en agtergeblewenes moet maar vrede maak dat terwyl leiers mekaar die hare invlieg en hul magsbasisse probeer verstewig. Onskuldige mense moet die prys betaal. Raadskamer besluite het oënskynlik vrede met die trane, worsteling en ongerief wat met hul besluite saamgaan.

Ek is nie bevoeg om die meriete van die VSA se optrede te beoordeel nie en lees dat genoemde amptenaar en leierskap  reeds onnoembare skade en lewensverlies veroorsaak het. Dat die Iran leierskap tot verantwoording geroep moes word is waarskynlik so. Geen land kan stilsit en toekyk terwyl jou soewereiniteit en voortbestaan willens en wetens bedreig word nie. In ʼn seker fyn berekende strategiese skuif is besluit om genoemde amptenaar te elimineer om ʼn mooi word te gebruik. Die res is geskiedenis.

Die gebeure skets die hartseer werklikheid van die prys wat omstanders, familie en gesinslede betaal in die skermutseling wat tussen mense plaasvind. Niemand leef in ʼn kokon nie en ʼn mens kan nie sommer voortstu in jou woede en retribusie sonder om die impak op ander te verreken nie. Met empatie teenoor die wat in verskillende vorme van afhanklikheid vasgevang is word die selfs vernietigende impak op mense rondom daardie persoon lank reeds erken. In die oor en weer “geskietery” tussen ouers sterf kinders emosioneel stukkie vir stukkie. Hulle het nie die vaardigheid om die onmin te verstaan of te verwerk nie.

Dit is selfsugtig om weg te stap van die skade wat jou en my optrede aan ander veroorsaak.
Mag ons met groter sensitiwiteit optree.

Die volwasse ding om te doen is hulp soek en dit betyds ook.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment