Thursday 9 January 2020

Saam die toekoms tegemoet.



Mag 2020 merkwaardig wees.
Dr Isak Burger skryf so mooi – “Vir die wat kies om te glo, kan 2020 maar kom”. (Beeld 8 Januarie 2020)

Dit is inderdaad so dat ʼn nuwe jaar ʼn kwota onsekerhede saamdra. Wat die toekoms inhou is onseker en onbekend. Dit kan ʼn mens effens onkant vang. Wie egter voortdurend met onsekerhede worstel kan nie voluit lewe nie. 

Eckhart Tolle het ʼn boek geskryf met die titel: “The power of now”. (https://www.youtube.com/watch?v=x8nRJErwQnc)
Ons het net die oomblik, “nou”. In stede daarvan dat ons die “oomblik” as ʼn gawe uit die Hand van God omarm en dit voluit beleef, wil ons dit heeltyd verander na en in iets anders. Ons kan dit egter nie doen nie want wat ons op die oomblik voorhande het, is gegewe. Die toekoms bestaan effektief nog nie, al wat regtig bestaan is nou, die vlietende oomblik.
Ongelukkig gaan nou meestal by ons verby.

Daar word gepraat van “The Sacrament of the present moment”. ( Jean Pierre de Caussade, https://cac.org/sacrament-present-moment-2017-11-21/)
Mag ons die genade vind om, sonder om die belang van beplanning en voorbereiding te onderspeel, die “nou” in ons lewens as die enigste ware realiteit te beleef en te waardeer.

Gister het 176 passasiers die lewe gelaat in ʼn tragiese vliegtuigongeluk. Nie een van hulle het geweet dat dit hul laaste dag op aarde is nie. Kort na opstyging het die tuig neergestort.
Die lewe is kortstondig. Ons het daar geen beheer oor nie. Ons het egter ʼn mate van beheer oor wat ons met nou doen.
Kyk rondom jou en sien God se wonderwerke en handewerk raak.
Dank Hom vir jou mede reisgenote, jou gesin en uitgebreide familie. Dank Hom vir “nou”.
Haal diep asem en geniet hierdie oomblik. Dit is al wat jy werklik het.

Ons liewe vaderland is en bly ʼn allegaartjie van goeie en minder goeie nuus. Die kwota onverkwiklikheid bly steeds met ons.
Eskom en fase ses verteenwoordig ʼn nuwe laagtepunt in kragvoorsiening in Suid Afrika. Die voortvarendheid om aan te dring op bonusse en dertiende tjeks is onverstaanbaar. Die keuse behoort duidelik te wees. Tensy Eskom kragvoorsiening in Suid Afrika op dreef kry het niemand werk nie. Vergeet van bonusse, nogal prestasie bonusse daarby. 1.8 miljard Rand kan ʼn verskil maak aan dienslewering.
Terwyl Eskom aandring op dertiende tjeks sluit menige besigheid sy deure omdat dit nie meer lewensvatbaar is nie. Ons vertrou mnr. de Ruyter sal die genade vind om die vaandel van trots en integriteit in Eskom in te dra. 

Suid Afrikaners is vir lank genoeg aan die neus rondgelei.
Dit is tyd dat dinge verander.

Ons harte gaan uit na boere en gemeenskappe wat, goeie reën op plekke ten spyt, steeds erge droogte ervaar. Die foto’s van diere wat omkom as gevolg van voedselnood raak ʼn mens intens. Dit laat my dink aan Jona in Nineve.
Die Here verwys die onwillige dienskneg van Hom na 120 000 mense wat daar woon en baie diere ook. God sien die diere. Mag hy dit ook nou doen.

So het daar na beriggewing reeds meer as ʼn half biljoen diere in Australië omgekom vanweë die brande.
Ai, mag die Here uitkom gee. Ons word net weer intens bewus daarvan dat die mens, sy tegnologie en intellek ten spyt,verleë staan voor krisisse soos hierdie. Dit onderstreep die kortstondigheid van alles en dat ons die oomblik sal omarm.

Ons matrikulante, trots van menige ouer en gemeenskap, het ons nie teleurgestel nie. Toegegee, gegewens oor prestasie moet interpreteer word en die onderwysowerhede spog wat my betref met persentasies wat nie realisties is nie. Des nieteenstaande is ons opgewonde oor die honderde duisende jongmense wat skouer aan die wiel gesit het en die oomblik van triomf terdeë moet geniet.

Die hoë persentasie leerlinge wat iewers langs die pad uitsak asook die nare werklikheid van werkloosheid wat ons jongmense in die gesig staar plaas ʼn demper op die feesvieringe.

Mag die Here ons seën met innovasie, vars denke en nuwe moontlikhede.
Mag die Here die land seën met ekonomiese voorspoed en Suid Afrika as ʼn land van beleggersvertroue vestig.

Om af te sluit sien ek ʼn tydskrif wat gereeld verskyn kondig 2020 so aan – “2020, laat dit juig”.

Inderdaad.
Life is worth the living just because He lives.
Carpe diem .
Gryp die dag.
Leef voluit.
Sing uit volle bors “ I have decided to follow Jesus, no turning back, praise the Lord, no turning back. “

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment