Wednesday 27 November 2019

I live in a rich man's world



Die lewe het ʼn manier om ons onkant te vang en onder te ploeg. Veral hierdie tyd van die jaar is mense se reserwes uitgeput en ek praat nie net van finansies nie. Sommige is gelukkig om benewens hul salarisse ook bonusse te ontvang. Dit mag die finansiële reserwes bietjie aanvul alhoewel dit waarskynlik en in die meeste gevalle aangewend word om kredietkaarte mee af te los. Emosionele reserwes egter kan nie met ʼn bonus of ʼn eenmalige bywoning van ʼn erediens, die lees van ʼn goeie geestelike boek of die deurluister van ʼn geestelike CD herstel word nie. 

Emosionele en geestelike reserwes word deur rus en rustigheid, meditasie, stilte, eie tyd en tot verhaal kom aangevul. Ons ken die uitdrukking my tenk is leeg. Om die nuwe jaar wat sommer om die draai is met ʼn agterstand te begin is om jouself ʼn onreg aan te doen. Niemand kan en gaan jou emosioneel en geestelik, ja ook fisies opbou nie. Jy en ek moet daarvoor tyd maak. Moenie dat die feesseisoen en feestelikheid jou verder uitput sodat jy wens dat nooit plaasgevind het nie. Dit is veral huishoudings wat aan die ma, tuisteskepper, omgee persoon en almal se toevlug moet aandag gee.

Dit is ook belangrik teen die agtergrond van die sestien dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders. ʼn Gemeenskap wat sy vroue en kinders verniel, dra skande. Dit strek ons nie tot eer, ook wat ons sg. Christelike getuienis betref, dat ons hierdie mense so verwaarloos nie. Die redakteur van ons oggendkoerant vra of dit ʼn kwessie van 16 dae aktivisme en die res, 349 dae van apatie is. Dit is ʼn opdraande stryd om Suid Afrikaners anders te programmeer met betrekking tot die behandeling van vroue en kinders. 

Ons het gepraat van geestelike en emosionele reserwes en rehabilitasie wat moet plaasvind. Ekonomiese reserwes is eweneens nodig. Moet dus nie die lang verwagte bonus op ʼn luuksheid spandeer en dan die res van die jaar wens jy het dit nie gedoen nie. Swart Vrydag lok weerlose verbruikers as deel van  stampende en stotende massas, voor winkeldeure geparkeer na veronderstelde winskopies. Jy wag jou beurt af om as deel van die volgende bevoorregte groepie tussen rakke te verdwaal.  Dis ʼn wasmasjien hier en dan jaag na die volgende winkel vir die waspoeier wat op ook op “special” is.

Plek soek in ʼn oorvol parkeerterrein waar angstige parkeerjoggies jou in twyfelagtige spasies indwing en verseker dis veilig net om melk en brood, ook teen afslagpryse,  vir middag ete aan te skaf.
Twee vir die prys van een en drie vir die prys van twee. 
Koop een en  kry een gratis of spandeer R1000 en staan ʼn kans om Mauritius toe te gaan.
Vyf hiervan beskikbaar en slegs drie van daardie . “First come, first served”.
Mense kyk mekaar kwaai aan as die een ʼn veronderstelde winskopie voor die ander gaps.

Dan wanneer jy uiteindelik in die ry val wurm die kopers met hul trollies kilometers aan mekaar. “Ching-ching” sing die kasregister en die winkeleienaar se rooi verander met elke bedrag wat op die kasregister ingesleutel word van rooi na swart. Tegelykertyd verander baie kopers se swart na rooi of die reeds rooi, na nog rooier. “Hoe rooier hoe mooier” sê die spreekwoord, of het ek dit verkeerd?

“Ek sal kan doen met ʼn miljoen” sê jy vir jouself terwyl jy die mooi dinge begerig aankyk.

Maar die woorde van Abba se “Money, money, money” draai in jou gedagtes terwyl Boney M se “We wish you a merry Christmas and ʼn happy new year” tot vervelens toe oor en oor in die winkel gespeel word.
Met apologie aan Abba (en ek maak ʼn bietjie ʼn karikatuur hiervan)

Verbruiker –
“I work all night, I work all day, to pay the bills I have to pay
Ain't it sad
And still there never seems to be a single penny left for me
That's too bad


“Money, money, money” speel dit in die winkeleienaar se kantoor.

“Money, money, money
Isn`t it funny
I live in a rich mans world

Aan al ons lesers , versigtig wees maar geniet die avontuur as jy daaraan gaan deel hê.
Van geld gepraat –wil jy nie dit tog oorweeg om die 2020 stiltetyd-dagboek aan te skaf nie. Dit is ʼn wonderlike geskenk wat mense daagliks sal verryk. Terselfdertyd help jy Toekomsvenster om sy “rooi na swart? te verander!
Bel Jannie 0836019094 of info@toekomsvenster.co.za
Dit is net by Toekomsvenster beskikbaar. Pos of afhaal. 

Mag die Here jou ryklik seën en mag die seën in jou lewe nie agterbly nie.
Dit kan ook nie omdat God ʼn Waarmaker is van sy Woord.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster


No comments:

Post a Comment