Sunday 12 January 2020

Ek sien my in jou


Ek het in die onlangse verlede ʼn kort reeks op Netflix gekyk met die naam Messiah. Dit is ʼn interessante kyk op die wêreld en mense se soeke na blywende antwoorde.
Iewers spreek die hoofkarakter, ʼn verteenwoordiger van God ʼn skare mense toe. Hy vra hulle om na mekaar te kyk en wys hulle daarop dat hul medemens, ongeag van wie dit is ʼn refleksie van hulle self is. Soos kyk hul medemens oor na hulle en sien eweneens die refleksie. Die onderskrif is dat ons almal net mense is. Almal is op die een of ander wyse op weg deur hierdie wêreld. Almal het uitdagings. Almal soek antwoorde, vastigheid, sekuriteit en geluk. Almal dors na geregtigheid en waarheid.

Intussen en te midde van ons gemeenskaplike soeke baklei ons onderling, maak van mekaar vyande, kyk na ander met vooroordeel en agterdog. Ons het kategorieë van aanvaarbaarheid waarvan die vereistes deur onsself of ons groep geskryf is. Ons skakel mense uit en maak hulle verdag. Dis die manier waarop ons probeer oorleef in hierdie wêreld, deur beheer uit te oefen.
Sy boodskap is dat ons verder sal kom as ons mekaar anders begin sien. Ons moet deernis hê met mekaar, ook met ander se foute en tekortkominge. Die bloed wat deur ons are vloei lyk dieselfde en almal se trane proe sout. Almal krul van pyn as hulle seerkry en almal verlang na meer.

Suid Afrika het meer deernis met mekaar nodig. Ons verskil in so baie opsigte maar die ooreenkomste is groter. Die grootste ooreenkoms is dat ons beelddraers van die lewende God is en dat Hy die beste vir ons begeer. Daarom help ons mekaar om aan God se bedoeling uitdrukking te gee.
Wat sien ons wanneer ons na ander kyk?

GENESIS 1:26
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”


No comments:

Post a Comment