Tuesday 28 January 2020

Nie alleen nie



Niemand behoort alleen te wees nie, punt. Tog hoor ʼn mens dikwels van mense wat eensaam, vergete en verwaarloos is. Dit is somtyds selfs waar van ouers wat gerieflikheidshalwe in die sorg van ʼn tehuis van bejaardes gelaat word. Dit is ook van ander mense waar. Ons verskil wat ons persoonlikhede betref en vir sommige mense is dit baie moeilik om uit die
eensaamheid te ontsnap. Jy sien hulle eenkant staan na eredienste wanneer koffie gedrink word. Nog hulle nog enige iemand anders reik uit. Nie lank nie en hulle vertrek net so eensaam soos hulle daar aangekom het.
Ander mense weer het nie ʼn probleem met afstand oorbrug nie. Hulle is geseënd met ʼn borrelde persoonlikheid wat mense nadertrek. Hoe geseënd kan ʼn mens wees?



Dalk is ons bang dat mense iets van ons gaan verwag. Dit is onwaarskynlik en “jammer, ek kan nie” is ook ʼn antwoord. Ten minste het ek en jy die menswaardigheid van ons medemens erken, selfs meer, vir God in daardie persoon raakgesien.
Dit is erg frustrerend somtyds wanneer jy ʼn diens verwag van iemand en hulle vra eers hoe dit gaan soos in ons Afrika kultuur maar dalk het hulle iets beet. Daar is iets belangriker as dit wat ons vir mekaar doen nl. dit wat ons vir mekaar kan wees, ʼn medemens, ʼn glimlag, ʼn toevlugsoord. Nie dat alle eensame mense diepgaande probleme het en jou daarvan gaan vertel nie. Veel eerder net ʼn vriendelike groet en ʼn paar heel basiese vrae wat die leefwêreld van daardie persoon verken.
Miskien roep die Here ons tot so ʼn bediening. Dis ewe geestelik as ons China toe te gaan om die Evangelie te verkondig. By God is daar nie klein en groot werk nie. Getrou wees in die kleinste dingetjies is net so belangrik.
Dalk onthou jy ʼn tyd toe jy eenkant gestaan en gehoop het iemand reik uit na jou. Maak dit vir ander makliker. Stap oor, groet en voor jy jou kan kry is ʼn heerlike gesprek aan die gang.
Die Bybel leer ons om gasvry te wees.
Groete
Jannie Pelse
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment