Monday 27 January 2020

Geestelike rommelstatus?

Ons lees voortdurend dat Suid Afrika die risiko loop om, wat sy finansies betref, tot rommelstatus afgradeer te word. Dit sou beteken dat Suid Afrika ʼn risiko vir potensiële beleggers, plaaslik en in die buiteland, verteenwoordig en dat dit derhalwe nie ʼn goeie idee is om hier te belê nie.

Nou ja, ons regering is nie baie gepla daaroor nie en glo ons sal regkom, ongeag.




Nietemin, rommelstatus in leke taal sou sekerlik beteken dat die risiko te groot is, dat belegging nie die nodige dividende sal lewer nie, dat onsekerheid knaag, dat monetêre en ander dissipline nie in plek is nie, dat korrupsie en misdaad die staat verlam, net soos kaderontplooiing asook beleid onsekerheid niemand aanmoedig om Suid Afrika as ʼn produktiewe en winsgewende beleggingsbestemming beskou nie. Rommelstatus is nie ʼn mooi woord nie: die Engels is nog minder vleiend, tw. “junk status”.

In geestelike sin wonder ek hoe ons binnewêreld daaruitsien? Is die belegging van die nuwe lewe, die belofte van die Heilige Gees, die Woord van die Here, die offers van martelare deur al die eeue, die opofferings van ons voorgangers en die vertroue van ander veilig? Kan mense ons geredelik nader vir raad, het ons geestelike onderskeidingsvermoë en die vaardigheid om mense in nood by te staan? Kan ons die Evangelie in eenvoudige terme verwoord, moderne problematiek in die lig van God se Woord beredeneer, deurdagte besluite maak, die wêreld help genees? Word die Koninkryk van God in en deur ons woorde en dade ʼn groter realiteit van dag tot dag? Die teendeel spreek vanself.

Bogenoemde beteken nie super Christene nie. Hulle word net op TV gesien. Die mense vir wie alles altyd uitwerk, vir wie seën soos in Ps. 23 nie net agtervolg nie maar inderdaad ingehaal het, wat antwoorde het vir alle vrae en oplossings vir alle probleme kan voorstel. Nee, ons is reisigers, besig om te leer en te groei maar daar is darem iets van ʼn tuiskom van God se genade sodat ons soos Paulus kan sê “God se genade in my lewe was nie tevergeefs nie”. Dit het op vrugbare grond geval, ontkiem en groei en lewer gestadig al hoe meer vrug.

Is jy dalk by rommelstatus vandag? God gooi jou nie weg nie, nooit nie. Inderdaad verwag Hy meer van jou maar Hy sal sy liefde nie van jou wegneem nie. Die probleem is dat ons beskaam voor Hom sal staan as ons met verganklike middele gebou het.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment