Thursday 30 January 2020

ʼn Land van kleure en klank

Ek herinner my aan wetenskapsfiksie rolprente wat ʼn mens vroeër jare gesien het waar akteurs in oorpakke geklee is wat besmetting van een of ander weerstandige en gevaarlike virus keer. Daar word verbete gesoek na ʼn teenmiddel om die verwoestende effek van die virus te keer. Mense word onder kwarantyn geplaas en hospitale sukkel om die siekes te akkommodeer. Heimlik het ʼn mens ʼn sug van verligting laat weerklink omdat dit net ʼn rolprent was. As kind het goed my baie ontstel en dan het my pa my herinner dat dit net prentjies was en nie die realiteit nie. Gister se verbeeldingsvlugte is egter vandag se realiteit.

Die verwoestende en onkeerbare brande in Australië het plek gemaak vir die pandemonium rondom die Korona virus. Volgens beriggewing het  132 mense reeds gesterf en toon duisende ernstige simptome. ʼn Hele stad is onder kwarantyn en toegangsroetes word oral patrolleer ten einde die verdere verspreiding daarvan te probeer keer. Van alle dinge is gesigsmaskers onbekombaar omdat voorraad van winkelrakke gevlieg het. Suid Afrikaners is bekommerd oor hul familielede in China en sommige moondhede het reeds begin om hul burgers na veiligheid te bring.



Beriggewing wil dit hê dat die ware omvang van die krisis in China nie bekend is nie en dat duiselingwekkende getalle mense reeds besmet is. Die inrigting van ʼn reuse veldhospitaal laat vermoedens verder die loop neem. China, die ekonomiese reus van die wêreld se hele ekonomie kan in duie stort word gesê. Ons is dankbaar dat op datum geen gevalle in Suid Afrika aangemeld is nie en plekke soos Oliver Tambo lughawe word gemoniteer vir besoekers uit Asie en China.
Verskillende gedagtes kom by ʼn mens op.

·         Die broosheid van die mens. Ons is nie so sterk en onafhanklik soos ons dink nie.
·         Ons beperkte verstaan. Ons weet nie alles nie.
·         Ons beperkte vermoëns. Ons kan nie alles beheer nie.
·         Ons aangewesenheid op God. Ons kan nie bekostig om ons onafhanklikheid van Hom te verklaar nie.
·         Ons gerigtheid op mekaar. Ons kan nie onverskillig met mekaar handel nie.
·         Ons kort bestaan op aarde.

In die profetiese rede word hierdie dinge as die noodwendige voorspel tot die koms van die Seun van die mens beskryf.

Daar is net een God en Hy is die Vader van ons Here Jesus Christus. Hy is in staat om leiding en wysheid te gee en ek glo Hy doen dit ook. Dit alles wil ons hoogmoedige bestaan tot nederigheid dwing.

Sonder My kan julle niks doen nie, sê die Bybel.
Niks kan ons skei van sy liefde nie.

Pandemies waarin honderde duisende mense gesterf het is nie onbekend aan die aarde nie. Die wetenskap het ver gevorder maar ons is en bly “heavy dependant”. Dit is gepas dat gelowiges bid vir die toedrag van sake. Daar word ernstig gewerk om ʼn entstof te ontwikkel wat die pandemie kan keer. Mag die Here insig en wysheid gee. In die noorde van ons land kry boere baie swaar van wee die bek en klouseer siekte onder beeste. Weereens kan en moet ons bid.

Die ANC se kabinet lekgotla vind tans plaas. Alhoewel ons gewoond geword het aan woorde sonder aksie bid gelowiges dat die Here wysheid en erns sal gee. Ons durf nie kritiseer as ons nie ook gebid het nie.
Ek dink aan die onhigiëniese toestande wat in baie gemeenskappe geld, ook die tekort aan skoon water. Dit is die ideale teelaarde vir allerlei goggas wat die bestaan van gemeenskappe bedreig.

Ek het waardering vir mnr. Lesufi wat tydens ʼn toespraak verklaar – ons moet rapporte  uitdeel en nie doodsertifikate nie. Dit n.a.v. verskeie onnatuurlike sterftes by en onder toesig van skole die afgelope tyd. Ons het nodig om vir ons kinders te bid. Ook die studente en hul verwoestende betogings om historiese studieskuld afgeskryf te kry onder andere. Protes is een ding maar sinnelose geweld en vernietiging van eiendom is skandelik.

Baie ander dinge verg ons aandag –

Armoede, werkloosheid, plaasgeweld, misdaad, verwaarlosing, groot onsekerheid oor grondhervorming,  maar -

Suid Afrika is steeds  ʼn juweel. `ʼn Gawe van God aan al sy mense. Ons beywer ons vir die Koninkryk van God hier ter plaatse en weier om toe te gee aan suggesties en aanduidings dat Suid Afrika ʼn mislukte staat is aldus Danny Titus. Daar is genoeg om oor bekommerd te wees maar hier by ons skyn die son en die lug is helder blou. Vertrou dit is ook die geval by julle.

Dit alles herinner my aan die bekende lied –

Daar is `ʼn land aan suiderkant kom deel in sy verhale
Uit die ooste, weste, noorde, suide toegebring
Dis ʼn land met milde hand wat uitreik telkemale
Om die hoop van more te besing

Dis ʼn land van kleure en klank
Dis ʼn land van oorvloed en dank
Dis ʼn land war almal na strewe
Dis ʼn land sonder horison en
Dis ʼn land wat wee hy kan
Ook ʼn blyplek neerlê vir my.


Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment