Friday 24 January 2020

Leë woorde

Water is ʼn basiese behoefte en om nie genoeg water vir huishoudelike en persoonlike gebruik te hê nie, is onhoudbaar. Dat gemeenskappe soos in Kwa kwa in opstand kom omdat hul vir weke aanmekaar water moet aandra huis toe, kan verstaan word. So sterf daar ʼn agt jarige dogtertjie in ʼn rivier waar water geskep moes word.
Dit is tragies en onhoudbaar veral in die lig daarvan dat beloftes wat van owerheidswee gemaak word nie ten uitvoer gebring word nie.



In ʼn radio program oor hierdie aangeleentheid skarrel die verantwoordelike amptenaar om antwoorde te gee. Hy gryp na strooihalms en maak geen indruk nie. Feit van die saak is dat dienslewering ʼn al hoe groter wordende probleem word in ons land.
Toegegee, plaaslike gemeenskappe moet self inspring en kyk hoe sake kan verbeter, maar dit is en bly die taak van die plaaslike en nasionale regering om toe te sien dat aan basiese behoeftes uitdrukking gegee word. Nou betaal menige gemeenskap die duur prys van geld wat in rampokkers se sakke beland het toe noodsaaklike onderhoud en opgradering gedoen moes word.
Dit bly ongelukkig die narratief in baie gemeenskappe soos tans in George beweer word. Mens word siek daarvan.
Ons leef in die jaar 2020. Dit moet nie nodig wees vir mense om met bondels hout op hul skouers afstand af te lê ten einde energie te verskaf nie. Ons, met die hulp van die verkose regering moet die kettings van ʼn derde wêreld nou afskud en opleef na mense se verwagtinge.
Tien babas sterf in ʼn Tembisa hospitaal vanweë onhigiëniese omstandighede in die hospitaal. Dit is skreiend en ʼn swak rapport op die vermoë van gesondheidsowerhede om na die behoefte van die bevolking om te sien. Daardie babas het mammas en pappas wat vir nege maande alles in gereedheid gebring het vir daardie nuweling. Selfs voordat die outjies huis toe geneem kan word sterf hulle vanweë nalatigheid. Ondersoeke word aangevra en rekenskap gelewer maar dit kan die babas nie weer lewend maak nie. Mens simpatiseer ook met die twee outjies wat gister gesterf het toe ʼn muur by hul skool op hul omgeval het nadat dit deur ʼn afleweringswa getref is. ʼn Jong seun van Park Town Boys High sterf te midde van beweerde onmenslike ontgroeningspraktyke by die skool. Argaïese praktyke soos inlywing en ontgroening is ontoelaatbaar.
Die Bybel sê die regering, owerheid is deur God aangestel om na die belange van sy skepping en die mense daarin om te sien. ʼn Ordelike en opbouende samelewing is duidelik deel daarvan. Burgers moet die owerheid gehoorsaam en respekteer. Die owerheid moet egter spontane respek afdwing vanweë die wyse waarop hul na die publiek se belange omsien.
Dit gebeur nie in Suid Afrika nie. Geen wonder dat navorsing daarop dui dat minder as 20% van die bevolking nog vertroue het in die huidige regering nie.
Wat staan gelowiges te doen in sulke omstandighede?
Ek dink nie dit is onvanpas om rekenskap van die owerheid te vra nie. Ons is gesamentlik rentmeesters van alles wat aan hierdie land toevertrou is.
Dit is nie genoeg om die regering een keer in vyf jaar by die stembus te straf vir hul versuim om te doen wat hulle onderneem het om te doen nie.
Mense sal moet toetree deur profeties te sê wat pla. So betreur ʼn brief in vanoggend se koerant die onbetrokkenheid van die publiek by vergaderinge waar hierdie tipe dinge bespreek word.
Onthou dat daar net tot die einde van Januarie geleentheid is om jou stuiwer in die armbeurs te gooi met betrekking tot grondhervorming.
Gisteraand het ons met vriende gaan uiteet. Die lieflike restaurant te midde van lowergroen bome, kleurvolle struike en plante, die akoestiese atmosfeer, die smaaklike kos en vriendelike diens, die aansteeklike interpersoonlike verhoudinge tussen, noem hulle maar kelners en ander personeel en kliente, het my tot nugterheid gemaan.
Alhoewel dit ʼn weeksaand is was die restaurant goed vol. Ons het in ons vriende se netjiese motor na die geleentheid gereis en het spesiaal mooi aangetrek vir die geleentheid. Die pad na die voorstedelike restaurant, ʼn slaggat hier en daar ten spyt, het maklik gery en medebestuurders was gedissiplineerd. Die aandlug was vars en ʼn mens het sommer lus gevoel vir die lewe.
Hierdie dinge het my laat besef dat alles nie negatief en swartgallig hoef te wees nie. As ons nie fokus op die tientalle mooi ervarings wat elke dag na ons toe kom nie sal ons is desperate moedeloosheid verval.
Daar is nog baie, baie mooi in hierdie land. Van die vernaamste is die gawe van diversiteit. Suid Afrika het mooi mense, genoeg mooi mense wat hierdie land wil laat werk.
Toegegee, die leë woorde van ons huidige regering veroorsaak baie spanning en hartseer. Ons moet werk vir ʼn samelewing waar almal ʼn aandjie uit met vriende kan geniet, kan aansit en eet en die lewe kan vier.
Vir ons leiers wil ons maan, moenie die geduld van die kiesers as vanselfsprekend neem nie. Kiesers vergeet nie.
Jul optrede herinner aan die bekende “bee gees” liedjie en die bykans hartseer voordrag daarvan, effens aangepas en toegegee, ietwat vermakerig en intimiderend -
met betrekking tot die onvervulde beloftes van ons leiers
It's only words and words are all you have
You take our breath away.
Groete
Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment