Thursday 23 January 2020

Val vooroor in God se genade

Ek is bevoorreg om so ʼn klein swembadjie by die huis te hê.

Dit is nogal interessant hoeveel oefening ʼn mens in die bietjie water kan kry. Vanoggend is die water effens aan die koelerige kant. Ek waag dit tot op die tweede trappie en wonder of ek dit aan myself wil doen. Dan oorrompel my gevoel vir waagmoed en ek val vooroor in die koue water.

Dit stuur ʼn rilling langs my ruggraat af maar binne oomblikke is ek gesentiseer vir die affêre en begin die oefening te geniet. Op daardie oomblik dink ek aan ons verhouding met God en die onbekende. Bewus daarvan dat God jou roep oorrompel ʼn gevoel van ontoereikendheid jou. Die duiwel fluister in jou oor dat jy nie die aangewese kandidaat is vir die taak nie en ʼn mislukking gaan maak. Soos gewoonlik stem jou geoefende gevoel van minderwaardigheid saam.



Jy oorweeg of jy nie maar liewer sal onttrek en verskoning by God sal aanbied nie. Hy sal mos verstaan. Mag so wees maar jy loop die seën mis. Vertrou Hom en val vooroor in sy genade. Laat gaan en laat los.

Dompel jou in sy voorsienigheid, almag en sorg. Omgord jou met waagmoed en doen waarvoor jy normaalweg sou huiwer. Die verrassing van ʼn leeftyd wag op jou.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment