Tuesday 14 January 2020

Huis van tweede kanse

Iewers gedurende die afgelope maand of wat verskyn daar ʼn voorblad berig oor ʼn man wat aan ʼn driepoot brakkie ʼn blyplekkie gegee het. Die opskrif van die berig lui “ Huis van tweede kanse”. In die normale sou mense seker nie baie opgewonde wees oor so ʼn verwonde dier nie maar hierdie barmhartige Samaritaan het hom ontferm en die hondjie ʼn kans van ʼn leeftyd gegee.

Met die vernietigende brande in Australië word ontstellend berig dat nagenoeg ʼn half biljoen diertjies omgekom het. Hier en daar lees jy van mense wat na beseerde diertjies omsien en hul met liefde op die pad van genesing begelei.



Ons leef in ʼn onvriendelike wêreld waar jy mag hoor dat jy nie goed genoeg is nie. Net die bestes kom bo veral in ʼn tyd waar prestasie alles geword het. Die feit dat hoë standaarde gestel word is nie in sigself problematies nie. Elke mens behoort daarna te streef om die beste weergawe van homself te wees en die volle potensiaal van sy Godgegewe talente uit te leef. Lyf wegsteek is ʼn slegte gewoonte en sommige het dit tot ʼn fyn kuns vervolmaak. Hulle sak iewers in selfbejammering uit en aanvaar wat ander oor hulle gesê het. Verhale van mense wat “ten spyte van” uitgestyg het gryp ʼn mens in die hart. Daar was talle sulke stories tydens die afgelope matriekuitslae. As ʼn mens darem lees waarmee sommige van die studente gekonfronteer is, hul jeugdige leeftyd ten spyt, staan jy in verwondering dat hulle die genade gevind het om nie te gaan lê nie. Ons mag nie handdoek ingooi nie. Christene behoort vir die “af vlerk” mense in ons samelewing ʼn huis van tweede kanse te wees. Ons mag nie in die koor van kritiek en veroordeling inval en verder afkraak en seermaak nie. Jy weet tog hoeveel ʼn klein bietjie aanmoediging in jou lewe vermag het toe jy stukkend, hartseer en moedeloos was.

By God is daar altyd ʼn tweede ( en derde, oneindig) kans vir die wat in afhanklikheid op Hom vertrou. Ons beste voornemens ten spyt doen ons somtyds dieselfde verkeerde ding oor en oor. Dit kos inoefening, dissipline en vertroue om die verkeerde te oorwin. Die Here staan deur sy Gees by ons en moedig ons aan om weer te probeer. Ons kry nie ʼn afranseling, skrobbering, loesing of uit-trap-sessie by Hom nie. Ons mag dit ook nie aan mekaar doen nie.

Wees ʼn huis van tweede kanse vir ander.
Dank die Here dat Hy jou weer en weer tegemoet tree.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment