Tuesday 14 January 2020

2020, ʼn jaar van maak of breek

Hier en daar hoor ek nog iemand sê “Compliments of the season”. Die “seisoen” is al byna vergete soos die nuwe jaar momentum opbou maar net weer en inderdaad, geseënde nuwe jaar. ʼn Opskrif in vandag se oggendkoerant lui “2020, ʼn jaar van maak of breek”. Die skrywer se konteks is uiteraard ons geliefde Suid Afrika en hy vra of ons gaan toelaat dat die heersende politieke party die land verder vernietig en of ons die “skans gaan wees om te red wat te redde is”. Daarmee konkludeer hy met “2020 is die jaar van maak en breek”.

Ons laat die politiek vir ʼn oomblik daar alhoewel ek volledig met sy sentiment en oortuiging kan saamgaan. Ons is ʼn sg. deelnemende demokrasie en sal moet wakker word voordat ons alles verloor. Gelowiges het nie alleen ʼn profetiese stem nie maar ook die instrument van profetiese protes. Daaroor skryf ek ʼn volgende keer. Jesus se gesondheid is egetr die maatstaf en standaard vir alle optrede.



Die jaar 2020 en jy is egter ter sprake. Die jakkalsies wat die wingerde verniel is ʼn bekende slagspreuk. Ek hou ook van die olifant in die kamer. Gaan ons toelaat dat persoonlike en gemeenskaplike omstandighede, leuens, minderwaardigheid, ander se menings, vooropgesette idees, agterdog, bitterheid en vrees die agenda skryf vir ons optrede in 2020? Of gaan ons die onkruid verwyder, akker skoonmaak, water walletjies netjies trek en die krane van God se genade integreer in ons lewens?

Gaan die notule van 2020 lees dat ons dieselfde sleurgang en mismoedigheid gehandhaaf het of gaan ons die duisternis in en rondom ons die stryd aansê?

Voorwaarts Christenstryders

Voorwaarts om te stry.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment