Monday 25 November 2019

Swart Vrydag



Verbruikers is in rep en roer vir komende Vrydag se inkopie mania. Oral word koerante, advertensies en winkelvensters dopgehou vir die groot winskopie dryf van die jaar. Besighede slyp hul tande in die vertroue dat rooi in swart sal verander. Dit is immers die rasionaal agter swart Vrydag dat besighede se rooi in swart sal verander. Die werklikheid is dat verbruikers se swart in rooi verander omdat, meegesleur deur die winskopiejag ( goedkoop koop is duurkoop) hul onbetaalde skuld net verder sal styg en die lewe nog meer gekompliseerd sal maak. Daar is niks so uitputtend, emosioneel, geestelik en andersins, as om van maand tot maand te probeer oorleef nie. Die lewe is uitdagend genoeg soos dit is, om dit nog meer te kompliseer deur onnodige skuld (kredietkaart) te genereer, is nie slim nie. Dit sal die moeite werd wees as ons almal ernstig besin voor ons koop, maak nie saak hoe voordelig (oënskynlik) die kopie mag voorkom nie. Plaas ʼn premie op die spanning wat die verpligting op jou gaan plaas en vra of dit regtig die moeite werd is. Daarmee misgun ons mekaar niks nie. As dit regtig slim koop is en ʼn mens dit kan bekostig desnoods omdat jy daarvoor voorsiening gemaak het, is dit sekerlik iets anders. Nie baie van ons het egter die voorreg om voorsiening te maak nie. Ons leef van maand tot maand. Versigtig wees, versigtig.

Die term Swart Vrydag kommunikeer ietwat anders vir Christene. In ons kalender was daar inderdaad ʼn Swart Vrydag. Selfs die son het sy aangesig verberg teen die agtergrond van wat op ʼn heuwel buite Jerusalem afgespeel het. Dit het stikdonker geword vir die Seun van God sodat die Lig van die nuwe dag vir ons sou deurbreek. In oordragtelike sin het Hy ons rooi op Homself geneem sodat ons boeke kon klop. Die skuld is betaal. Die rekening is teen die kruis vasgespyker.

As ʼn mens eers eenkeer skuldvry is, is dit dom om jouself weer in ʼn posisie van afhanklikheid te begewe. Sonde, die moedswillige meedoen daaraan, bring weer skuld (gevoelens) en optrede te weeg. Skuld loop rente en die las word net al hoe swaarder.
Nie weer skuld maak nie.
Ons is mos vry.

Onthou Toekomsvenster se  Stiltetyd-dagboek vir 2020. Skakel vandag nog 0836019094 of 011 6652516.

Groete

Jannie Pelser
Organiseerder
ToekomsVenster

No comments:

Post a Comment