Thursday 21 November 2019

Perspektief op die nuus



Die liedjie “Al die veld is vrolik en al die voëltjies” sing kom vanoggend by my op. Ons gee soggens vir die tuin voëls saadjies en hulle is so kontant dat hulle letterlik in die boomtakke en heining sit in afwagting van die feesmaal. Dit herinner my aan Ps. 23 se feesmaal  “U laat my by ʼn feesmaal aansit terwyl my teëstanders toekyk”. Totaal onverdiend.

Jesus verwys in Matt.6  na die voëls van die hemel. Hulle saai nie en maak nie in skure bymekaar nie, maar geniet God se sorg. “Hoeveel te meer, julle kleingelowiges” vra Jesus aan sy dissipels wat duidelik oor baie dinge bekommerd is.

Ons het die heerlikste reën gehad die afgelope tyd en vannag, wanneer ek vir ʼn oomblik bewus word van wat rondom my gebeur, hoor ek hoe die Here ons seën. Vanoggend is alles druipnat en ons harte juig. Ons kan maan toe en terug maar ons kan nie reën maak nie. Ons is vir die heel basiese dinge in die lewe radikaal afhanklik van God. Juis daarom gaan ons harte uit na die gemeenskappe waar dit nog so ellendig droog is.

Die foto’tjie van ʼn erg verswakte en uitgeteerde  koedoe wat,  op soek na weiding en water,  in die teerpad afgestrompel kom (doen op sosiale media die rondte) en nie eers pad gee voor die motors wat verby kom nie,  gryp mens in die hart.

Ek dink vanoggend aan ʼn geleentheid waar ons vir reën gebid het. Ek was nog in die laerskool en kon nie ouer as tien elf jaar gewees het nie. Ons het op daardie stadium in Brandfort in die Vrystaat gewoon. Dit was baie droog en daar was ʼn biddag vir reën uitgeroep. Ek en my ma is kerk toe. Die lug was helder blou toe ons die kerkgebou in is en die hitte uitputtend. Ek kan uiteraard nóg die teks, nóg die boodskap onthou. Wat ek wel duidelik onthou is die donkerblou onweerswolke wat reeds dik aangepak was toe ons by die kerkgebou uitstap. Dit het katte en honde gereën die droogte se greep was gebreek.

Ek dink aan die gebeure by Nineve en Jona se onwilligheid om die Woord van God daar te gaan verkondig. Wanneer Jona kwaad bly omdat God genade bewys het aan die volk wat nou tot inkeer gekom het, verwys die Here na die 120000 mense en baie diere. Ja, God sorg ook vir die diere.
God het dit gedoen en doen dit steeds.
Here, wees ons ook nou genadig.

Die stakende SAL werkers is dalk nie net hul verhoging kwyt nie maar ook hul salarisse as ʼn mens luister na Pravin Gordon gisteraand op die TV. Ek kan die rasionaal van stakings nie verstaan nie, veral wanneer dit by ʼn reeds bankrot instelling soos die SAL kom.
Daarmee saam het geen van die staatsbeheerde instellings ʼn skoon oudit onvang van die oudit generaal nie en is daar steeds kommer dat miljarde rande onregmatig bestee word. Wanneer die toedrag van sake gaan verander weet geen mens nie.

Die impak wat, nie net die staking nie maar ook die hele finansiële diskoers van plekke soos die SAL, SABC, Eskom en ander op die ekonomie, toerisme, buitelandse beleggers vertroue, ens. het kan nie naastenby verreken word nie.

Watter energie drankie is dit wat vlerke gee?
Dalk moet ʼn paar dosyn Red Bull  aan die stakende werkers uitgedeel word om hul energie vlakke op te stoot en hulle terug te kry by die werk.  

Ek ek het bitter min vertroue in die bedoelings, motivering en bona fides van vakbondbase nie.

Black Friday is voor die deur en al wat leef en beef slyp hul tande vir allerlei winskopies. Ek wonder of die SAL nie wil oorweeg om vier vlugkaartjies vir die prys van een, Kaap toe en terug wil aanbied nie . Ek en vroulief wil hoeka by die Waterfront gaan rondloop. Ek sal egter oor ses maande moet afbetaal.

Een ligpunt is darem dat die inflasiekoers onder vier persent is wat moontlik daartoe sal lei dat rentekoerse vandag verlaag word. Met kersinkopies voor die deur sal dit sorg vir ʼn broodnodige inspuiting in verbruikers se sakke. Ongelukkig sal die effek van die laer inflasie waarskynlik eers lank na Kersfees gevoel word as dit hoegenaamd aan die verbruiker deurgegee word.

Ek is bekommerd dat ons mekaar in die naam van die Bybel so seer kan maak. Ek praat nie van die ongelowige wêreld teenoor Christene nie. Dit sou ʼn mens nog kon verdra. Ek praat van die kerk teenoor sy eie lidmate. Die diskoers in die kerk rakende seksuele oriëntasie is bekend. Ek verstaan nie waarom ons fokus ander se uitdagings nie. Die Bybel leer immers, haal eers die balk uit jou eie oog voordat jy ander wil kritiseer.

Ek debatteer nie die saak hier nie maar om voortdurend geobjektiveer te word tot ʼn gespreks- en besprekingspunt op die kerklike agenda moet pynlik wees vir die mense wat betrokke is. Ek wonder stellig of dit regtig belangrik is in ʼn land waar mense honger gaan slaap. Om dan, (ek verwys na die bekende rugbyspeler) , soos in Australië die vernietigende brande voor die deur van hierdie mense te lê is vir my gevoel kru en ongevoelig.

My verstaan van God is ietwat anders.
Retief Burger verwoord dit so.

God is liefde juig ons harte
En bedink wat liefde doen
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
Om ons sonde te versoen.
Hy wat eerste liefgehad het
Het in liefde ons vergeef
Nou kan ons uit God gebore
Uit die bron van liefde leef.

Ek hoor gister die Kapenaars se
Lewe aspris
Nou ja
Kom ons doen so

No comments:

Post a Comment