Tuesday 19 November 2019

Is dit hoe ons God ken?




God kan nie volledig geken word nie omdat Hy ver bokant ons begrip is. Hy is meer, groter, heerliker, omvattender, merkwaardiger, magtiger, heiliger, volmaakter, so kan ek aangaan, as wat ons ons kan voorstel. Om te sê dat jy God ken is eintlik effe arrogant. Daar is soveel, soveel, soveel meer. Ons gaan ʼn ewigheid in die hiernamaals by Hom deurbring. Dit gaan ons ʼn ewigheid neem om Hom beter te ken, en selfs dan sal dit ʼn breukdeel wees van wie Hy werklik is.

How great is our God
Sing with me how great is our God

Die teenoorgestelde is egter waar. Hy ken ons, vir jou en vir my, deur en deur, die fynste detail, die grootste uitdagings, verleenthede, sondes, tekortkominge, hartseer. Hy ken ook ons potensiaal en is voortdurend besig om ons kapasiteit om sy dissipels te wees te vergroot. Hy is nie klaar met ons tot op die dag dat Jesus op die wolke verskyn nie.
Halleluja.

Ek het begin deur daarop te dui dat God net gedeeltelik deur ons geken word. Wat ons egter wel van Hom weet is dat Hy liefde is. Weereens kan ons God se verstaan van liefde nie begryp nie. Ons sien wel iets daarvan aan die kruis van Golgota. Ons kan nie langer twyfel dat God dit opreg bedoel met ons nie.

Juis daarom vind ek dit moeilik om ʼn verstaan van God te akkommodeer wat verkondig dat Hy altyd  gereed staan om te straf. Die brande in Australië en die uitsprake wat deur ʼn bekende rugbyspeler in die verband gemaak word is daarvan ʼn voorbeeld. Ek wil dit kategories stel, dit is nie hoe ek God verstaan nie.

Voordat ʼn mens so ʼn uitspraak maak moet jy  die hartseer, teleurstelling en pyn van geaffekteerde mense in ag neem. God is boonop vir sekere mense kwaad maar Hy straf onskuldiges in die proses.
Sou Hy nie presies weet waar die sogenaamde oortreders is nie?
Waarom sou hy mense se eiendom, selfs lewens bedreig en afneem omdat Hy vir ander mense kwaad is?
Hoe kry mense dit reg om soveel skuld voor God se deur af te laai?
Het God ʼn saak met sonde? Inderdaad!
Straf Hy sonde? Inderdaad!
Wanneer straf Hy sonde?
Twee duisend jaar gelede sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Is God kwaad? Mag wees.
Vir wie sou God kwaad wees?
Dalk vir mense wat in Sy Naam soveel liefdeloosheid propageer.

Ons kan God se werk by Hom los.
Ons taak is om Jesus aan mense te verkondig.
Die Heilige Gees sal die res doen.

Ps. Onthou asb. die 2020 dagboek. Vertel asb. ander daarvan.


No comments:

Post a Comment