Monday 18 November 2019

Genoeg is genoeg


Mens hoor hierdie frase nogal dikwels in Suid Afrika. Of dit verwys na die waansinnige wyse waarop mense hier vermoor en beroof word, die gebrek aan dienslewering wat kwesbare mense weerloos laat, die eskalerende lewenskoste, die manier waarop vroue en kinders misbruik, verkrag en selfs doodgemaak word, ens. almal is dit eens dat dinge nie so kan voortgaan nie.
Dis hartseer en laat ʼn mens koud. Dit moet verander, genoeg is genoeg!. Tog na my gevoel verander dinge maar stadig indien hoegenaamd. Tensy iemand inisiatief neem, mense met gemeenskaplike belange bymekaar kry, kreatief dink, beplan en uitvoer is dit niks meer as stoom afblaas nie. Ons het verandering broodnodig.
Ek wonder egter of daar met betrekking tot ons eie geestelike lewens nie ook sekere sake is waarvan ons genoeg gehad het nie. Jou lysie mag anders lyk as myne maar mag insluit
-              Ek genoeg na die leuens van die duiwel geluister.
-              Ek was nou genoeg negatief en pessimisties oor die lewe, myself en ander
-              Ek het nou genoeg getwyfel
-              Genoeg van ongeloof, wantroue en God weerspreek.
-              Ek maak klaar met vrees en weier om langer deur my subjektiewe gevoelens gemanipuleer te word
-              Ek gaan nie weer terug op die beloftes wat ek teenoor God gemaak het nie
-              Genoeg van agterdog en vooroordeel
-              Ek gaan nie langer my eie planne as God sn. voorhou nie
-              Ek weier om langer slaaf van my vlees te wees. God leef in my. My gees is nuut.
So kan ek voortborduur.
Emosionele uitsprake en voornemens is egter nie genoeg tensy dit opgevolg word met daadwerklike gehoorsaamheid, vasberadenheid, dissipline en geloof nie.
Waarvan het jy genoeg gehad.
Verteenwoordig dit die Heilige Gees se stem?

Ps. Onthou groot seblief die 2020 dagboek. Dit sal jou lewe verryk met bydraes van mense soos Johann Els, Hennie Stander, Elza Meyer, Danie Botha en Braam Hanekom om maar ʼn paar te noem. Skakel Madelaine 011 6652516 om bestelling te plaas.

No comments:

Post a Comment