Thursday 14 November 2019

Here U sorg vir my Ps.16

Die feit dat dit die Here is wat vir my sorg is gerusstellend in ʼn tyd waar dinge al moeiliker raak. Mens lees berigte van lae tot geen ekonomiese groei, buitelandse beleggings wat opdroog te midde van al mnr. Ramaphosa se pogings om nuwe belangstelling te kweek, krediet graderings wat laag meet, pryse wat opgaan en lewenskoste wat buite verhouding spiraal. Die langdurige droogte het uiteraard ʼn impak op beskikbare finansies omdat produkte gewoon duurder raak. Dit kos deesdae amper net soveel geld om ʼn kind op skool te hou as op universiteit. Geldelike steun by wyse van beurse vir die wat verder wil gaan studeer word tans vir ander geoormerk. So kan ʼn mens aangaan. Dit bly ʼn uitdaging om kop bo water te hou.
Desnieteenstaande is die Here goed. Ek wil my verstout om te sê dat nie een van julle wat nou hier lees gisteraand honger gaan slaap nie. Jy kon kies uit verskeie kledingstukke wat jy vandag wil aantrek. Op pad werk toe het jy heerlik “handsfree” op jou selfoon geklets met ʼn geliefde (en dit is lekker). Jy stap gemaklik by jou werkplek in omdat hulle jou daar verwag. Kollegas deel rondom tee en etenstyd mekaar se wel en wee. Jy het of gaan waarskynlik jou mooi kinders se konsert, jaareindfunksie of prysuitdeling bywoon. Al hierdie dinge gun God vir jou.
Vanaand skop jy skoene uit voor die TV en kyk na jou geliefde natuurprogram op DSTV. Vakansie planne neem vorm aan terwyl kersgeskenke hierdie jaar ywerig bespreek word. Toegegee, besteebare inkomste is effens minder maar daar is darem ʼn lekseltjie.
Die Here is steeds goed. Hy sorg. Ja, kom ons erken dit, oorvloedig.
Ek sien vanoggend weer ʼn berig oor die skreiende armoede van ʼn groot deel van ons bevolking. Dit sluit mense van alle sektore in. God gee ook vir hulle om en dit is gaaf as jy daar kan bydrae.
Loof die Here omdat Hy goed is en goed is sonder end.
Ps Onthou asb die 2020 dagboek. Hieronder besonderhede
(Onthou Kersfees is om die draai en dit is ʼn goeie geskenk)


No comments:

Post a Comment