Wednesday 30 October 2019

Nuuskommentaar



Mnr. Titi Mboweni se voordrag gister in die parlement ontstig en ontstel. Vooruitsigte vir Suid Afrika lyk in terme van sy mededeling nie goed nie en daar sal drasties opgetree moet word. Ons is deel van die globale gemeenskap en Suid Afrika is nie enigste plek waar dit broekskeur gaan nie. Wat ons situasie vererger is ondoeltreffende regering en die verlammende korrupsie en vermorsing van bronne. Die maatreëls wat aangekondig is om besnoeiing van staatsuitgawes teweeg te bring word verwelkom maar is nie ingrypend genoeg nie. Daar is doodgewoon net nie meer plek vir onproduktiewe en slordige administrasie nie.


Jan Publiek is teen die grond met die een na die ander prysstyging. Rondom die einde van die jaar word die een na die ander verhoging in premies ens. aangekondig. Inkomste styg nie ooreenkomstig nie en moedeloosheid staar baie mense in die gesig. Mnr Mboweni en kie sal die samewerking en ondersteuning van Jan Publiek kry eers wanneer die snoeiskêr behoorlik ingespan word om ondoeltreffende en soustreinagtige besteding in die kiem gesmoor is. Stel jouself dit voor 29000 miljoenêrs in die staatsdiens. My CV is hoeka in, maar niks gehoor nie. Iets met regstellende aksie te doen.

Sal nie omgee as ek so reggestel word nie.


Die vooruitsig van hoër belastings in die komende jaar laat ʼn mens se opgewondenheid oor die komende feesseisoen sondermeer kwyn. Dan weer herinner ek myself aan die eens bekende Halleluja lied.

Tel jou seëninge tel hul een vir een

en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk.


Die Here is steeds goed. Prys sy Naam.


O goedheid Gods hier nooit volprese

wie word daardeur nie diep getref.

Hoe snood ondankbaar is die wese

Wat nie sy hart tot U verhef.

Aan U alleen my dank en ere

U Woord sal my gedurig bly.

U moet ek liefhê heel my wese

En ook my naaste min soos my.


Argaïese Afrikaans wat nou in onbruik verval het maar steeds poëties mooi.


Beriggewing oor duisende sterftes in staatshospitale plaas die voorgestelde nasionale gesondheidsplan in perspektief. Lyk my Jan en alleman moet sorg dat sy en haar testament in orde is voordat hulle aanmeld vir behandeling daar. Dit is veral die dood onder babas wat hartseer veroorsaak. Wie neem verantwoordelikheid. Is dit Esidemeni op ʼn ander vlak?


Skaars is die Grandleigh debakel agter ons of seksopvoeding van en onder skoolkinders sorg vir baie emosionele reaksies. Niemand kan ʼn ouer kwalik neem wat bekommerd is oor die leerplan wat nou voorgehou word nie. Die onderwysdepartement sê dat dit in ooreenkoms is met internasionale seksopvoeding aan kinders op skool moet vir ons eie gekontekstualiseer word. Deel van die probleem is dat ouers dikwels en vanweë ʼn verskeidenheid redes die omvattende opvoeding van hul kinders aan skole en kerke uitkontrakteer.


Die media veral tree veral graag toe as primêre opvoeder. Ons kinders word op baie jong leeftyd bewus gemaak van ʼn basiese instink en behoefte by die mens maar sonder die emosionele onderbou en verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Dit maak ouderdomsverwante oopgesprek oor seks baie nodig maar ongekontroleerde en onverskillige inhoud kan kinders juis op ʼn trajek stuur wat hulle eerder kwaad berokken as goed.


Die heel eerste vraag wat ouers moet beantwoord is of hulle inderdaad hul doopbelofte nakom. Dit behels veel meer as fisiese geborgenheid en sorg. In ons worsteling om siel, gees en liggaam bymekaar te hou, verwaarloos ons tyd vir speel, gesels, bespreek en lag. Voordat ons die leerplan kritiseer moet ons eers vra of die onderwysdepartement ouers kan vertrou om te doen wat hulle veronderstel is om te doen.


Ek merk tydens doopgeleenthede graag op dat God met die betrokke kind en met die ouers praat. Vir die kindjie wat gedoop word belowe God sorg, liefde en omgee. Die dopeling word verseker van God se goeie bedoelings en uitgenooi om soos ʼn verbondsvennoot te lewe na mate die inhoud daarvan duidelik en verstaanbaar word. Vir die ouers het God baie te sê maar, die laaste woorde aan hulle, ja te midde van vele beloftes is – watch it!!


Oor Halloween hoef ek niks te sê behalwe, vir watter rede sou Christene daaraan deel wil hê?

My liewe mens

Waarmee is jy besig?


I hear babies cry

I watch them grow

They’ll learn much more

Tan I ll ever know

And I think to myself

What a wonderful world.



No comments:

Post a Comment