Ek sien vanoggend
ʼn boom op ‘n sypaadjie wat êrens in die verlede bykans tot op
die grond afgesny is. Ek moet dít eers van my hart af kry, bome is “heilig”!!
Ek bedoel nie soos om te aanbid nie, maar ʼn boom verdien respek. Daar mag redes
wees waarop bome doodgemaak moet word soos wanneer dit die fondasie van ʼn huis
bedreig. Selfs dan sou ek wou voorstel dat jy jou huis op ʼn ander plek herbou
(grappie).
Ek dink aan die kortstondigheid van ʼn mens se lewe
teenoor sommige bome wat letterlik generasies oorleef. Bome kan báie verhale
vertel.
Wie almal in sy skadu gesit het, hoeveel erge
winters hy al beleef het. Dalk van ʼn veldbrand wat sy bas erg
beskadig het. Stories van trane wat onder daardie boom gehuil is en verliefde
paartjies wat onder gespreide takke piekniek gehou en in mekaar se oë gestaar
het?
Bome het baie om te vertel.
Dié betrokke boom waarvan ek praat moes jare oud
gewees het as ʼn mens die omtrek van die stam in
aanmerking neem. Wat mense vergeet is dat onder die grond daar ʼn stewige en
indrukwekkende wortelsisteem is wat die boom se groei moontlik maak. Diep onder
die grond word die lewensap onttrek en na die uithoeke van die takke en blare
gevoer. Wat bo die grond leef is ʼn weerspieëling van wat onder die grond aan
die gang is.
Die feit dat daar nou reg rondom die stam van die
boom, ja, selfs uit die afgesnyde stam self nuwe takkies groei, sê duidelik dat
daar betekenisvolle lewe ónder die grond is. Dis asof die boom luidkeels
uitbasuin, “jy kan my afsny, maar jy kan my nie doodmaak nie tensy jy by my
wortels uitkom”.
Die boomstorie laat my aan die lewe dink. Dis
onafwendbaar dat harde en moeilike tye kom. Ons is nog nie in die hemel nie.
Somtyds word ons deur onvriendelike opmerkings, negatiewe ervarings en hartseer
tot op die grond “afgesny”. Wat uiterlik sigbaar is egter nie noodwendig ʼn
weerspieëling van wat aan die binnekant aan die gebeur is nie.
Swaar tye kán maar kom.
Paulus sê ons is kleipotte wat maklik breek.God is ons Bron. Hy is ons sekuriteit. Hy gee en
waarborg die lewe.
You can`t keep a child of God down.
Jes.11:1 – ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp
van Isai, 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
Groete, Jannie Pelser.
No comments:
Post a Comment