Friday, 7 September 2018

Die mense in my lewe.



Dit is nie lekker om alleen te wees nie. Vir kort tydjies dalk, maar om altyd en sonder ophou alleen te wees is nie vir my nie.

Mense is vir mekáár gemaak. Ons het mekaar nodig en moet mekaar waardeer vir solank as wat ons die reis op aarde met mekaar deel. (Google gerus die sg. “mekaar"- tekste in die Bybel)

Soveel waardevolle tyd gaan verlore terwyl ons tyd en energie verspeel met beuselagtighede. Die lewe is taai genoeg dat ons mekáár ook nog die stryd sal aansê. Jesus sê, hieraan sal die mense weet dat julle my dissipels is, die feit en sigbaarheid van julle liefde onderling. Joh.17

Die rede waarom ons nie ander in ons spasie toelaat nie is meermale onbekendheid. Die spreekwoord sê “onbekend maak onbemind” en saam met die onbekendheid kom vrees, vooroordeel, agterdog en veronderstellings van hoe ander mense is.

Ons luister eerder na stories as om dit met vreemde mense te “waag”. Wie dit egter al met vreemdes “gewaag” het, getuig van ʼn lewensveranderende ervaring. Wat ons in gemeen het, is ons mensheid, ons is immers almal beelddraers van die lewende God, mense met wie se lewens God ʼn plan het.

Meeste mense, net soos jy hunker na vrede, vreugde en vervulling. Ons is ten diepste dieselfde.Die verskille lê dikwels net op die oppervlak.

Wil jy  nie maar een persoon buite jou normale verwysingsraamwerk leer ken nie? Dalk ʼn koppie koffie, ʼn kuier aan huis, ʼn brief of e-pos. 

Dis sal nie lank wees nie en jy kom die agter almal se trane sit vlak en almal se glimlaggies speel rondom die mondhoeke.

Verskeidenheid is aantreklik en verrykend en ánders is nie verkeerd en verdag nie.

Groete, Jannie Pelser.

No comments:

Post a Comment