Tuesday, 11 September 2018

Kan God ons nog red?


Suid Afrika is ʼn smeltkroes van ontstellende gebeure. Onder die skyn van welvarendheid wat veral die stede kenmerk, val die res uitmekaar.

Die onsekerheid waarin ons toekoms gehul is word grafies deur koerante en ander media onder aandag gebring. Daar is ʼn gesmeul onder die oppervlak wat, soos onlangs in die gebou wat die departement van Gesondheid huisves, dreig om aan die brand te slaan. Die aantal geboue wat nie aan basiese veiligheidstandaarde voldoen nie is ʼn metafoor vir ons hele land. Dit het onveilig en onsmaaklik geword.

Skeuringe dreig op bykans elke vlak. Daar is nie konsensus oor hoe belangrike strategiese vrae hanteer moet word nie en soos gewoonlik spat ons in vele rigtings uitmekaar .
Dis lank nie meer “ander” mense wat ander leed aandoen nie, maar ook ons eie.

Die rand is al hoe minder werd, die land gaan gebuk onder ʼn resessie, politieke partye sê mekaar die stryd aan, mense word uit bewegende treine gegooi en miljoene rande se skade word aan infrastruktuur veroorsaak.

Kinders slaap honger, werksoekers staan vergeefs op die hoek van strate en hoop dat ʼn barmhartige Samaritaan verbykom en ʼn dag se loon verseker.

Dis nie so lekker hier by ons nie!!

Dit is egter die ideale konteks vir ʼn verskil maak. Iemand het gesê..”the world at its darkest, the church at its finest hour”.
Ons kan nie langer op die kantlyn staan en toekyk hoe alles deur ons vingers glip nie. God verwag meer van ons. As Hy hoop verteenwoordig en versinnebeeld moet daar hoop gebring word. Soos in Nehemia se tyd roep God ons om reg vóór ons te bou.

Daar is stukkende mure in jou omgewing. Die herstelwerk mag in jou huis begin. Van daar af na die mense wat vir en saam met jou werk. Elke dag is swanger met moontlikhede.
Betaal bv. vandag iemand agter of voor jou in die ry by die supermark se skamele kruideniersware. Jou kredietkaart sal dit nie eers agterkom nie.

So plavei ons die toekoms met stene van hoop.
Wat die res betref bid en aanbid.
God het nie met ons opgegee nie.
Groete, Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment