Monday, 3 September 2018

Ons treurmoerbei juig.



Ps. 18:29 - U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my.
Ps. 18:30 - Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.

Ons het die mooiste treurmoerbei in die tuin. In die somer hang die takke tot op die grond en wee die persoon wat daaraan raak. Verlede seisoen was die vruggies vanweë die droogte maar tengerig, maar ek het goeie moed vir hierdie jaar. Dit is pure vreugde om saam met die kleinkinders die heerlike pers wurmpies af te pluk en met genoegdoening te geniet.

Gedurende die winter is die boom baie mistroostig en onooglik. Die takke wat eens lowergroen was is dan net stokke in die wind. Dit krap jou as jy verbyloop en van daardie deernisvolle aanraking gedurende die lente en somermaande is daar weinig te bespeur.

Die winter is nou net verby en lente is in die lug. My treurmoerbei het sy swaarmoedigheid afgeskud en tot op die verste end van die takkies is groen botsels te bespeur. Dit lyk bykans soos larwes wat aanstons geboorte gaan skenk aan die mooiste skoenlappers. Daar is letterlik nie ʼn takkie wat nie staan en hande klap om die lente en somer te verwelkom nie.

My treurmoerbei juig.

Die winter, alhoewel oënskynlik droog en onproduktief, skenk geboorte aan hierdie skouspel. Toe dit sigbaar dood voorkom was die wortels besig om diep in die grond na water te soek. Die boom het geweet dat die nuwe seisoen ʼn appèl op hom gaan maak en het alles in die stryd gewerp om te verseker dat die lente iets vir die oog en later vir die mond word.

Dalk het dit tyd geword dat jy begin juig. Die droë winter is agter die rug. Alles wat skurf en leweloos voorgekom het begin nou lewe.

Moenie dat die winter jou lewe dikteer nie. Breek deur in ʼn heerlike groen kombers. Wys wat in jou steek. Met God spring jy oor ʼn muur. Geen bende kan teen jou standhou nie. Jy is baie meer as wat jy gedink het deur die krag wat hy jou gee.

Op ʼn suikerpakkie, die soort wat ʼn mens in restaurante kry, staan die volgende woorde –

Believe in youself
You are braver than you think
More talented than you know
Capable of more than you can imagine.

Groete, Jannie Pelser.


No comments:

Post a Comment