Ons is nog nie
DAAR nie.
Ek is tans op wat
ʼn “geloofsreis” genoem word. Dit is ʼn drie jaar verbintenis om jouself beter te
leer ken en in die proses ontslae te raak van al die “bagasie” wat jy met jou
saamdra. Iewers skuil die “ware self” en wag om “bevry” te word.
Dis intens en
somtyds emosioneel. Dit vra ʼn hoë graad van eerlikheid en ʼn
gewilligheid om plekke in jou menswees te besoek wat lank weggebêre is. Dit is
egter bevrydend en broodnodig.
Die besondere
model aan die hand waarvan ons in hierdie ontmoeting gesels word die Eneagram
genoem. Dit onderskei nege persoonlikheidstipes en is ʼn interessante en
komplekse model. Wat ek met groot waardering agterkom is dat elkeen van ons uniek
geskape is. Ons is beelddraers van die lewende God en ons moet dit van mekaar
respekteer.
Ons het ook ons
eie persoonlikheidsamestelling en verstaan van die wêreld wat soms hemelsbreed,
van die volgende persoon verskil. Die kuns is om te sien hoe en waar jy kan
groei en hoe ander jou daarin behulpsaam kan en wil wees.
Net so het elkeen
van ons ʼn betekenisvolle bydrae om te lewer met betrekking tot die vorming van
ander mense. Sommige lewer hierdie bydrae gemaklik en spontaan en ander vind
dit moeilik.
Feit is dat
niemand in hierdie lewe die kuns van menswees na God se bedoeling vervolmaak nie.
Dis ʼn lewensverbintenis waarin ons dikwels faal.
God se genade is
genoeg en dit behoort ook genoeg tye wees wanneer ek my eie gebreke in die oë
moet staar. Dit geld eweneens vir my verhouding met die mense rondom my.
Dalk is die
woorde nederigheid en dankbaarheid die twee parameters waarlangs ons die reis
moet onderneem.
Groete, Jannie Pelser
No comments:
Post a Comment