God sal sorg.
Baie jare gelede
het ons vir die eerste keer ʼn huis
gekoop. Dit was menslik gesproke ʼn baie riskante ding om te doen. Ek het
my begewe in ʼn voltydse musiek- en sangbediening waarin daar min “sekuriteit”
was. Inkomste het afgehang van die geleenthede wat jou gebied word om in
eredienste en by ander funksies te bedien. Met ‘n petrolgeldjie en ʼn donasie in
die sak is jy dan verder op pad na die volgende geleentheid.
In hierdie tyd
het ek ʼn belofte uit God se Woord ontvang dat Hy sou sorg. (Ps.37) Ons het van
daardie teks ʼn uitgangbord gemaak en
buite ons huis geplaas as ‘n getuienis van ons geloofsvertroue. Sedertdien het daardie
bord saam met ons verhuis.
Vanoggend toe ek
weer die bord buite die pastorie sien hang het ek terug gedink aan God se
getrouheid oor baie jare en dit dankbaar in herinnering geroep.
Sedert dáárdie
tyd het ons vier kinders grootgemaak, almal het ʼn geleentheid gehad om verder
te studeer, twee dogters het getrou (pa se rekening), geëet, geslaap,
gebly en gery en nóóit iets kort gekom nie.
Ek bring
vanoggend hulde aan die onmeetlike en goeie God vir wie ons dien. Hy was en is
en sal altyd getrou bly.
Daar sal wéér tye
wees waar ek my sal moet beroep op daardie teks. Nie dat ek dit nie elke dag
nodig het nie. Maar in tye waar jy die roepstem van die Here hoor wat sê “trek
verder” weet jy – die enigste standhoudende sekuriteit wat ek het, is die beloftes
in God se Woord. Daarvoor staan die drie-enige God self in. Dis betroubaar en
die waarheid.
Ek weet nie wat
jou situasie vandag behels nie. Miskien het jy nodig om jouself te herinner aan
die wonderlike wyse waarop God in die verlede gesorg het en nuut daaruit lewe.
Psalm 37: 4 -
Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
Psalm 37: 5
- Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Groete, Jannie
Pelser.
No comments:
Post a Comment