Suid Afrika
ervaar tans ʼn “tegniese resessie” word gesê. Nou ja, die semantiek mag vir
ekonome belangrik en insiggewend wees, maar
vir Jan en Alleman sê dit nie veel nie. Die praktyk wys egter dat die ekonomie
onder geweldige druk is en ʼn mens koop al hoe minder met dit wat tot jou
beskikking is.
Dit is
interessant om te hoor hoe dinge met mekaar verstrengel is . Alles is met alles
verbind. Die resessie beteken groter werkloosheid, minder besteebare inkomste,
hoër inflasie, hoër rentekoerse, groter skuld en so kan ʼn mens aangaan. Aan die
einde is dit Jan en alleman wat die spit afbyt. Die manne met die vet salarisse
en bonusse het min ongemak.
Mens dink
onafwendbaar aan die nagenoeg 10 miljoen Suid Afrikaners wat werkloos is. Dit
verteenwoordig ʼn betekenisvolle persentasie van die bevolking. Ek dink nie ʼn
mens kan jou die trauma van ʼn werklose indink nie. Die emosionele spanning wat
dit teweeg moet bring moet baie groot wees.
Om vir jouself en
ander te kan voorsien is ʼn basiese behoefte by mense. Die krisis met jou
selfverstaan is groot. Ons identiteit is, uiteraard verkeerdelik so verweef met
wat ons doen en wat ons het. Dis een ding om vir iemand wat genoeg het, ook die
sekuriteit van ʼn betrekking en gereelde inkomste, te sê dat jou identiteit nie
in besittings en finansiële stabiliteit lê nie. Dis iets heeltemal anders as
daar nie kos op die tafel is nie. Gevoelens van mislukking dreig om jou
selfverstaan oor te neem.
Natuurlik kan ʼn
mens jouself verontskuldig en na rede soek vir die nare toedrag van sake. Ons
owerheid slaag nie daar in om ons land op ʼn pad van ekonomiese groei te plaas
nie. Ondeurdagte gesprekke van onder andere grondonteiening sonder vergoeding
dra nie by tot beleggersvertroue nie. Die buitensporige rand/dollar wisselkoers maak ons buitelandse
skuld net groter en groter. Allerlei ondersoeke wat tans aan die gang is, wys presies hoe diep ons land en sy mense
in die moeilikheid is.
Tog is ek nie
daarvan oortuig dat die Here Christene verontskuldig en vryskeld van hul
verantwoordelikheid om na die minderbevoorregte om te sien op grond van die
wanbestuur, korrupsie en bedrog by invloedrykes nie.
Ek hoor in my
gees hoe Jesus vir sy dissipels opdrag gee om die versamelde menigte tydens een
van Jesus se buitelugpreke te versorg. Gee julle vir hulle iets om te eet, sê
hy. Hulle, totaal oorbluf, reageer soos ons almal sou reageer. Dis een ding om
te sê, gee julle vir hulle kos, maar waar is die kos. Vyf broodjies en twee
vissies kom nie ver nie. Ons ken almal die verhaal.
Nadat Jesus die
Vader vir die maaltyd gedank
het, begin die dissipels uit te deel. Die verbasende is dat die kos nie
opraak nie. Dit word net meer en meer totdat daar selfs 12 mandjies oorbly.
Inaggenome die miljoene mense in Suid Afrika wat op en onder die broodlyn
lewe kan ʼn mens voel dat jou kosmandjie skaars aan jou eie behoefte voldoen.
Wat nog te sê die miljoene sorgbehoewende mense. Dit spreek my altyd aan as my
tuinwerker sy ontbyt en middagete in twee deel sodat hy iets kan huis toe vat.
As ons wat ons
het egter aan die Here toewy, is
Hy in staat om op merkwaardige wyse te onderneem. Gee wat jy het. Gee op
verantwoordelike wyse, maar gee.
Moenie kos
weggooi nie. Dit is krimineel. Gee wat vanaand oorbly more oggend op pad
werk toe by die straathoek af. Skryf ʼn bemoedigende boodskappie op die netjiese
pakkie. Maak daarvan ʼn bediening.
Vries kos wat
oorbly dit totdat iemand aan jou deur klop. Verwerk dit in ʼn dis wat meer
mense kan voed. Skakel in by ʼn voedingskema.
Koop meer verantwoordlik en minder luuks en
gooi wat jy spaar in ʼn blikkie totdat jy iemand daarmee kan seën.
Produsente en
handelaars mag pryse van produkte nie sinteties manipuleer deur oorskot
weg te gooi en te vernietig nie. Dit skreeu ten hemel.
Meeste mense kan
sonder die ekstra gewig beter funksioneer. Kruisig die soet tand. Eet gesonder
en spaar.
Gesondheidsprodukte
het ʼn nuwe status simbool geword. Die produkte is peperduur. Ek google
vanoggend en lees ʼn paar artikels wat wys hoe mense ʼn rat voor die oë gedraai
word deur allerlei wondermiddels wat te koop aangebied word. Wees maar
versigtig en maak seker dat die kool die sous werd is. Soos allergieë deesdae
identifiseer word, moet ons almal
permanent maskers dra. Kenners waarsku lankal dat baie sg. vitamiene en
aanvullings niks meer doen as om die water, jy weet waar, te kleur nie.
Jesus sê..gee julle,
nee gee JY vir hulle iets
om te eet.
Groete, Jannie Pelser.
No comments:
Post a Comment