Wasemhartjies
Dis koud buite en wreed dat klein kinders moet skooltoe
gaan. Karlu neem haastig sy sitplek in terwyl sy ma trippel om alles bymekaar
te maak wat moet saamry.
Haar afsprake wag en tyd is kosbaar.
Karlu wasem teen die ruit en teken vir oupa ʼn hartjie. Dis
sy “totsiens oupa, lief vir jou” boodskappie vanoggend.
“Die lewe is ʼn lied” sing dit hier binne my. Here, dankie
vir die gawe van die lewe. Dankie vir die gawe van kinders en klein kinders.
Dankie vir die gawe van liefde.
Ek koester die ervaring soos lekkergoed in my mond. Ek wil
nie hê dit moet klaarkry nie. Ek is in verwondering oor die grootsheid van dit
alles.
Die wasem teen die ruit getuig van lewe. Dis die uitasem
na die inasem. Albei is nodig.
Die inasem is genade. Die uitasem is dankbaarheid, lof en
diensbaarheid.
Die inasem is God se liefde vir ons (sy voorsiening elke
dag), die uitasem (hartjie teen die ruit) is ons antwoord op die gawe.
Gewasemde hartjies teen die ruit sê “ek is lief vir jou, wat kan
ek vir jou doen”?
Wasem vandag liefde teen die ruite van ander mense se
bestaan. Beantwoord elke asemteug na binne met ʼn dankbare lofsang en oorvloedige
daad na buite.
“Pay it forward” is die naam van die fliek.
Moenie wag dat die hartjie eers vir jou geteken word nie.
Teken eerste, Suid Afrika het dit so nodig.
Neem my lewe laat dit Heer U gewy wees meer en meer. Laat my
hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig.
Joh. 17 Hieraan sal mense weet dat julle my dissipels is as
julle mekaar liefhet.
No comments:
Post a Comment