Vrouedag se agtergrond lê in die moedige opmars van
nagenoeg 20000 vroue op 9 Augustus 1956 jaar gelede na die Uniegebou in Pretoria
om teen die onmenslike paswette te betoog. Die memorandum sou aan die
president, ʼn man, oorhandig word. Hy het nie opgedaag nie.
Dit is nagenoeg 62 jaar gelede.
Sedert 1994 word die dag as Vrouedag gevier.
Ek onthou die dae toe swartmense nie vrylik kon rondbeweeg
nie, teen ʼn sekere tyd stedelike gebiede moes verlaat het, deur polisie
arresteer en in tronkselle opgesluit is omdat hulle nie ʼn pas by hulle gehad
het nie. Dit in die land van hul geboorte.
Paswette en wat daarmee gepaard gegaan het veronderstel tweedeklas burgerskap, identiteitloosheid,
minderwaardigheid, inperking van bewegingsvryheid, kwesbaarheid en so kan ʼn
mens aangaan. Dit het mense geobjektiveer. Dit het van mense gebruiksartikels
gemaak. Dit het afhanklikheid verpak. Dit was niks minder of meer as geweld
teen vroue en kinders nie want kinders het dieselfde toekoms in die oë gestaar.
Inderdaad het die instelling en reëling vir alle swartmense
in ons land gegeld. Dit was egter die vroue wat die lydende partye was. Manne
het as huurlinge in myne en industrieë ver van huis en haard gewerk. Vroue moes
die pot plaaslik aan die kook hou, as huiswerkers optree, die gesinstruktuur te
midde van ʼn afwesige vader aan die gang hou. Dit het vroue in die besonder
intens geraak.
Ons hele samelewing het verander, ons het een van die mees
gevorderde grondwette ter wêreld, ons leef in ʼn demokratiese bestel,
geleenthede het vir alle mense ontsluit, baie word gedoen om die ongeregtighede
van die verlede reg te stel, mense kom toenemend tot hulle reg.
Geëmansipeerde Suid Afrika.
Die hartseer is dat die inperking en verontmensliking wat
paswette gebring het in ander vorme voort duur. Vroue van alle agtergronde (en ek weet ek
veralgemeen) , word steeds geobjektiveer as gebruiksartikels deur algemeen geldende
persepsies van wie en wat hulle in die samelewing verteenwoordig. Die rol van
vroue as gebruiksartikels word sistemies in stand gehou. Die media buit dit vir
eie gewin uit.
Baie vroue worstel om as eweknieë in die arbeidsveld erken,
gerespekteer en bevorder te word. Die vrou as tuisteskepper is verpak in ʼn patriargale
struktuur wat deur verouderde stereotipes in stand gehou word. Vroue is
produksie middele, hulle vervul die behoeftes van hulle of ander mans, hulle
word onmenslik en wreed misbruik deur dwelm en prostitusie netwerke, hulle
verskalf plesier aan bekend en onbekend teen afslagpryse. Baie is so verinneweer
dat hulle nooit weer tot ʼn menswaardige bestaan sal kan terugkeer nie. Vroue,
jong meisies veral, word in mensehandel
as moderne slawe uitgevoer.
As met hulle klaar
gehandel is word hulle as liggaamsdele
letterlik as spaarparte verkoop.
Die wyse waarop vroue in die media as verleidsters
voorgestel word, ʼn bekende sepie op SABC ʼn sprekende en verdoemende voorbeeld, skree
ten hemel. Dis tipies van die persepsie en rol wat aan vroue toegeken word.
Demokratiese Suid Afrika ten spyt is geweld teen vroue en
kinders onmenslik en verdoemend.
Dis die vernaamste teken dat ʼn samelewing ernstig siek is.
Dis tyd dat paswette in modern en eietydse gestalte tot ʼn
einde kom, dat vroue as mense erken en gerespekteer word. Daar is min om vandag te vier. Dit behoort ʼn dag van
kerm en klae te wees in ʼn land waar nie minder as vier vroue elke dag deur
betekenisvolle mense na aan hulle vermoor word.
Voor die einde van vandag sal tientalle vroue verkrag,
gemolesteer, verbaal en emosioneel afgetakel en verhandel word.
Dis heerlik om Vrouedag as ʼn vakansiedag te vier. ʼn Dag van verootmoediging
en berou is veel eerder gepas.
No comments:
Post a Comment