Monday, 13 August 2018

Ons glimlag maar...


Verlede week hoor ek hoe ʼn verslaggewer oor die radio vertel van ʼn onderhoud wat sy met iemand gehad het. Die persoon het baie trauma beleef en probeer dapper wees maar die trane lê vlak. Sy sê hy glimlag “maar dit hang nie aan sy mondhoeke nie”.

Innerlike gebrokenheid kan nie konsekwent agter ʼn oppervlakkige glimlag verdoesel word nie.

Iemand het gesê “You can fool some of the people some of the time, but you can not fool all the people all te time”.
Dis so belangrik om ʼn vertroueling te hê met wie jy die pad na genesing kan stap.

Gebrokenheid en ʼn verwonde gees is nie sonde nie. Dit is ook nie ongeloof of enige iets anders nie. Dis stukkend en seer en dit neem tyd, somtyds lank, om gesond te word.
Net soos ons nie wil hê ander moet ons oordeel en ons allerlei etikette om die nek hang oor ons worsteling nie, net so mag ons dit nie aan ander mense doen nie.

Stukkend is waarom Jesus gekom het. As die wêreld en almal wat daarop woon heel was, was daar geen rede vir sy koms nie.

Hy genees die gebrokenes van hart. Hy vee die trane af. Hy maak weer heel.

ʼn Glimlag wat deur jou hele wese speel is pragtig. Dis die getuienis van heelheid. Meeste van ons glimlag want dis wat die wêreld van ons verwag. Daar is nie tyd om op te vang met jou innerlike nie. Jy is ʼn produksie middel, die werk wag.

Die liedjie sê “smile even though your heart is breaking
All you have to do is smile”.
Dis moedig en is goed vir oorlewing maar daar is ʼn plek waar jy dit nie hoef te doen nie. Dis in die eerste plek in die “spreekkamer” van jou Hemelse Vader.
Dis ook in die spreekkamer van mense wat daartoe geroep word.

As jy hulp soek sal jy vind dat dié twee dikwels saamval.

JESAJA 38:5
“Gaan sê vir Hiskia: So sê die Here die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien”.

No comments:

Post a Comment