Wednesday, 29 August 2018

Waarom is jy so kwaai met jouself?



Ons verskil van mekaar, dis deel van die skeppingsverordening. Ons persoonlikhede verskil, ons lewensuitkyk, ons menswees. Ons het ons idees van reg en verkeerd, aanvaarbaar, of nie goed nie.

Sommige van die verkeerde staan op ons rekening geskryf. Ons is almal sondaars wat deur genade gered is. Ons is nie volmaak nie en die Here is nie met ons klaar nie. “We are a work in progress”.

Sommige van ons is baie onvriendelik teenoor onsself. Ons foute staan soos reuse voor ons en eis verantwoording. Niks wat ons sê, of dink, bring rus nie. Ons word aangekla, skuldig bevind en veroordeel tot ʼn lewenslange boetedoening. Ons kry nie daarmee klaar nie. Ons is verwerplik, teleurstellend en suurstofdiewe.

Sommige van ons vind ʼn vreemde soort energie in hierdie sleg voel oor onsself. Dit bevestig wat ons lankal vermoed het. Ons is dit nie werd nie. Die wêreld sou ʼn beter plek gewees het sonder ons.

Uiteraard is bogenoemde ʼn verkeerde verstaan van God. Dis juis die probleem, dis ʼn vorm van ekkerigheid wat siek is. Kry klaar met jouself. Hou op om jou ore uit te leen vir die leuens van die bose. Hy verlekker jou in jou selfpyniging. Waarvoor het Jesus dan gekom en gesterf en betaal as jy dit steeds doen?

Gryp die kruishout vas. Bely dis ook vir my. Los jou selfverwyt daar. Staan by die oop graf. Staan op in ʼn nuwe lewe. Haal asem. Jy is kosbaar. Bely
dadelik waar van toepassing. Bely met trane as dit moet, maar stap dan die pad verder in die wete dat jy skoongewas is.

Vir die bose het jy geen goeie woord nie. Nog ʼn bewys dat hy ʼn leuenaar en ʼn moordenaar is. Moenie hom die genoegdoening gee nie.

God is mal oor jou! Hê jouself ʼn slag lief.

Groete, Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment