Ek is tans besig met wat ʼn geloofsreis genoem
word. Dit is ʼn retraite waarin jy jouself beter leer ken en verstaan. Jy word
bewus van groei-areas in jou lewe en kry die
toerusting om dit te onderneem.
Ek bly in een van daardie tente wat eintlik lekker
luuks en gemaklik is. Dis nie regtig uitkamp nie. Daar is omtrent alles binne
wat ʼn mens op ʼn ander plek sou kry. Ek is dankbaar.
Twee dae gelede was dit bitter koud en ek wou dit
nie waag om op te staan voordat dit behoorlik lig was nie. Ek het vroeg bewus
geraak van ʼn tikkery iewers en nie geweet wat dit is nie totdat ek later sien
dis ʼn swaeltjie wat wil inkom. Die kombuisvenster is uiteraard deursigtig en
die swaeltjie kan “sien” wat binne aangaan. Dit moet heerlik warm, aantreklik
en gemoedelik voorkom as ek nou so uit die swaeltjie se gedagtes probeer praat,
onthou dit is bitter koud buite.
Daar is egter ʼn venster wat verhoed dat hy inkom.
Hy kan sien, verlang, hoop, wens, droom, filosofeer oor hoe dit hier binne moet
voel, maar moet verlief neem dat dit hom nie beskore gaan wees nie.
Dit laat my dink aan die “teologie van
uitsluiting” waarmee so baie van ons besig is. Ek gebruik die woord “teologie”
opsetlik want ek aanvaar dat ons almal kinders van die Here is en dit opreg met
Hom bedoel. Tog kry ons dit op ʼn manier reg om uitsluiting ook by die Here te
regverdig.
Ek probeer dink aan Jesus en of Hy ooit iemand
uitgesluit het. Ek het ʼn vermoede dat Hy mense konsekwent ingenooi het. Dit was
juis die onaansienlikes wat by Hom tuisgekom het.
Hy was self iemand wat uitgesluit was. Dit het tot
Sy dood gely.
Ja, Hy was kwaai met die Fariseërs oor hul
geveinsdheid en pretensie. Hy was krities teenoor die kerk van die dag, juis
vanweë hul dubbele standaarde, arrogansie en hoogmoed, maar Hy het nie
uitgesluit nie. Bekering was ‘n oproep en uitnodiging om binne te kom. Die
uitnodiging het op sy liefde berus.
Ek wonder of daar iemand is wat nie al uitgesluit
gevoel het nie. Dis ʼn aaklige ervaring en jy wens die aarde wil jou insluk. Dit
laat jou minderwaardig en tweedehands voel. Ons was wat ons sonde betref
uitgesluit van wat Paulus die “heerlikheid van God” noem, maar Jesus het aarde
toe gekom en ons kom innooi in sy Koninkryk. (Rom.3:23;6:23)
Dit nie op grond van enige iets wat ons reg gedoen
het nie, inteendeel.
Waarom sou ons dit dan so maklik reg kry om mense
uit te sluit?
Uitsluiting vind plaas a.g.v. ʼn verskeidenheid
redes. Meerderwaardigheid, hoogmoed en arrogansie.
Dis ook ʼn teken van ondankbaarheid want as
ons onthou waar God ons kom haal het sou ons anders reageer het.
Vooroordeel, vrees en agterdog speel ook ʼn rol.
Ek het ʼn idee dat ons in Suid-Afrika baie ver sal
vorder as ons wat die Gees van Christus het ʼn daadwerklike poging aanwend om
ander mense in ons sirkel te verwelkom. Dit mag verskillende dinge vir
verskillende mense beteken.
Ek hoor van ʼn wiskundige wat elke dag die Gautrein
Sandton toe gebruik. Op die stasie staan ʼn persoon van ander kleur en kultuur
wat viool speel. Terwyl almal voortstrompel na hul plek van werk maak die
wiskundige ʼn punt daarvan om elke dag vir ʼn paar minute stil te staan en te luister.
Dan gooi hy ʼn ietsie in die houer en vertrek na sy dagtaak. Niemand anders hou
stil nie. Niemand nooi hom in hul wêreld in nie.
Die jong wiskundige trou toe en vra die violis om
die musiek by die onthaal te verskaf. Netjies geklee in ʼn snyerspak en strikdas
en nie bewus van waar hy vandaan kom nie is die uitgelese gaste gaande oor die
talentvolle jongman. Hulle kan nie uitgepraat raak nie. Hul reageer in ongeloof
as hulle hoor dat hy ʼn straatmusikant in Sandton is by wie bykans niemand
vertoef nie.
Die oomblik se stilstaan en omgee en wedersydse “innooi”
het hierdie man se lewe verander. Iemand het genoeg omgegee en die potensiaal
van hierdie violis raakgesien. Hy het die afstand oorbrug en met ʼn bietjie
moeite en belangstelling hierdie man se lewe verander.
Wie is daar wat wag om ontdek te word?
Wie se lewe kan jy vandag verander?
Vir wie kan jy vandag in jou wêreld innooi en laat
deel in die vreugde van bevoorregte mense?
Na alles –
All I had to offer Him was brokenness and strife,
but He made something, beautiful, of my life.
Groete, Jannie Pelser.
No comments:
Post a Comment