Wednesday, 8 August 2018

Dis net die begin



Deut.4:24
Here my God, U het begin om my u grootheid en u groot mag te laat ondervind. Watter god is daar, in die hemel of op die aarde, wat u magtige dade kan nadoen?

Moses kom ʼn lang pad saam met die Here. Vanaf sy grootword jare in Farao se paleis, daarna veertig jaar in die woestyn se skape op pas, nog  veertig jaar in die woestyn vanweë Israel se halstarrigheid staan hulle as volk nou op die punt om die beloofde land binne te gaan. 

Moses probeer nog een keer om God tot ander insigte te bring. Dit waarvoor hy homself sy lewe lank beywer het kan nou bewaarheid word. Die probleem is dat God as straf besluit het dat Moses die land sou sien maar nie sou binnegaan nie. Die insident toe Moses die rots geslaan in stede van daarmee gepraat het is die agtergrond. Moses was dun gesmeer as gevolg van die volk se murmurering en ongeduld. Hulle het altyd terugverlang na die slawerny van Egipte. Nou het ʼn hele geslag uitgesterf en gaan die Josua generasie in besit neem wat reeds aan die voorvaders beloof is. 

Moses soos reeds gesê probeer weer. God se beslissing staan egter vas. “Jy het nou genoeg hieroor gepraat” sê Hy, “moenie weer met My oor hierdie saak praat nie”
Sjoe dit moes moeilik gewees het om hierdie woorde van die Here aan te hoor. 

Dis egter die begin van Moses se pleidooi wat my aanspreek. Hy, die jare saam met die Here ten spyt, reken dat hy nog net aan die begin staan van God te ken. Daar is soveel meer sê hy. Wat hy van God beleef het is niks meer as die 101 van sy geloofswandeling nie. Die lewe is te kort, veral nou teen die agtergrond van God se besluit, wil hy God so graag beter leer ken.

Ons leef somtyds asof alles ons vertel is. Ons raak verveeld in God se geselskap en ons toewyding en verwondering taan. Die entoesiasme waarmee ons gedien het raak weg en dit kos baie oorreding om ons in sy teenwoordigheid te bring. Wat meer kan daar wees is die vertrekpunt van baie gelowiges teenoor Moses, naby 120 jarige leeftyd se “ek het U nog net begin leer ken en ervaar”.

Miskien moet ons weerhonger raak vir God. 
Daar is soveel meer. 
Waar jy is is nog net die begin.

No comments:

Post a Comment