Friday 1 June 2018

Gloeilampe is deel van ons lewens.

Op die onmoontlikste tyd doof die liggie en sit jy in die donker. Dan is dit skarrel om dit te vervang, net om uit te vind dat dit ʼn inskroeftipe moet wees en nie die sg. bajonet tipe nie. Energie gloeilampies het met groot fanfare begin maar het sedertdien lekker duur geword. Of dit regtig langer hou is ek nie seker nie maar laat ek nie my onkunde bely nie.



Gloeilampe skyn nie op hul eie nie. Met al die ingeboude potensiaal is dit steeds afhanklik van ʼn kragbron. Daarsonder is dit ʼn blote ornament, weliswaar vol belofte maar oneffektief.
Die Bybel gebruik die lig metafoor gereeld. As kinders het ons gesing “laat ons skyn vir Jesus met ʼn helder glans”.

Die wêreld is donker, depressief en desperaat. Die Lig van God se Koninkryksteenwoordigheid moet sterker na vore kom rondom ons. Daarvoor sal ons by die kragbron “ingeprop” moet wees.
God het ons met soveel potensiaal gemaak. Sommige het die potensiaal om helderder as ander te skyn. Daar is immers 60 Watt en 100 Watt gloeilampe. Daar is gloeilampe wat dowwer skyn. `ʼn Siekekamer wil tog nie oorverdowende lig hê nie. Elke sterkte het sy plek. 
Skyn vandag hoe en waar God jou roep. Wees “ingeprop” by die Dunamis van God, Sy Gees wat bemagtig en bekwaam maak.

MATTEUS 5:15
..ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.

Groete
Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment