Monday 4 June 2018


Ek sien jou

Ek het ʼn kollega in ons omgewing wat gesiggestremd is. Hy kan niks sien nie, altans nie soos met sy fisiese oë nie.
Hy is ʼn leeftyd in die bediening en is ʼn inspirasie en mentor vir baie. Ons loop mekaar hier en daar by ʼn vergadering of iets dergeliks raak, maar nie gereeld nie.
Dit gebeur Saterdag wat verby is dat ek hom raakloop by ʼn plaaslike inkopie sentrum. Hy is ʼn trotse oupa van twee en die outjies gesels land en sand, glad nie skaam nie.
Piet groet vriendelik en merk op dat hy my lanklaas “gesien” het. Die woorde het my getref.
Daar is ʼn manier van kyk wat nie “sien” is nie. Dis terloops, in die verbygaan en oppervlakkig. Natuurlik het ʼn mens nie altyd die geleentheid om te kuier nie.
Dan is daar ʼn sien wat veel dieper gaan. Dis ʼn kyk met belangstelling, omgee en deernis gevul. Dis medemenslik en opreg.
Dis bykans soos ons gebruiklike “hoe gaan dit met jou?” Die antwoord is gewoonlik “goed dankie en met jou” as ʼn mens hoegenaamd na die respons luister. Eintlik vertoef jy nie lank genoeg om na die antwoord te luister nie.
Regte belangstelling kyk die ander in die oë en stel opreg belang.
In ons gejaagde lewe gaan soveel verlore.
Dis te vinnig en te terloops.
Kan ons iets van “diep sien” en opreg belangstel terugbring in ons op weg wees met mekaar.
Dis hoe God na ons kyk en hoe Hy in ons wel en wee belangstel.
Dit begin by my en jou.
Joh.1:47 Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.”
48           Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?” “Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

Groete

Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment