Thursday 31 May 2018


Wierook vir God

Ons almal beleef dit. Tye van vertwyfeling en worstel met onbeantwoorde vrae,  ʼn gevoel van ongelukkigheid en onbehae.
Dit is veral van toepassing wanneer ʼn mens dink oor die taak en opdrag wat die Here vir jou het.
Jy werk ʼn leeftyd en glo in jou roeping.
Jy bring baie offers in die proses en beskou dit as ʼn voorreg. Jy is koersvas roepingsbewus en volhard in die geloof. Jy bly glo maar dit gebeur nie. Die deurbraak wil nie kom nie, die beloftes realiseer nie en gaandeweg wonder jy oor baie goed.
Het jy reg gehoor of was jy dalk voortvarend?
Was jy eerlik of het jou hart vir jou gelieg?
Het jy gesondig en die salwing iewers verloor?
Jy luister fyn na alles wat mense sê. Miskien is daar ʼn profetiese woord sonder dat iemand dit besef of jy wens iemand wil jou in die Mall raakloop en ʼn woord uit die Troonkamer met jou deel.
Maar dit gebeur nie.
Dis stil en stukkend.
Dis ʼn alleenplek en nie regtig lekker nie maar nie heeltemal sonder betekenis nie.
Dan lees jy die teks raak. “Ons is die wierook wat vir God gebrand word”. Ons is geroep tot prysgawe van onsself. Dis vir die Koning om te besluit hoe en waar Hy ons wil aanwend. Solank dit ʼn aangename geur is.
Dit troos.
Dis nie heeltemal wat jy gehoop het nie maar dit bring weer fokus.
Dis wie jy is.
Wierook vir God.
Dis reeds genoeg.
Moenie moed opgee nie.

No comments:

Post a Comment