Wednesday 6 June 2018

Dis hoe God oor JOU voel

Ek is ʼn oupa en dit voel asof die Here aan my ʼn tweede kans gee om dinge rondom die grootword van ʼn kind te beleef. Toe ons eie outjies klein was het dit haastig gegaan en so baie het op ʼn manier by my verbygegaan. Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om dit nog ʼn keer te mag doen en beleef. 



Karlu, ons een vyfjarige, gesels land en sand oor die dinge wat hy by die kleuterskool leer. Hy is gefassineer met die sterre en planete en vertel ywerig van die Melkweg en ander konstellasies. Hy verstaan klaar veel meer as oupa. Mense sê hulle “sien” allerlei goed in die lug daarbo maar vir my is dit net helder liggies, sommige naby en ander ver.

Juvan (ook vyf)  se soet stemmetjie  oor die telefoon trek my naby. Alles is  “hoekom” en “waarom” en oupa se verduideliking word met  ʼn beleefde “o”  begroet word. Oupa antwoord so goed hy kan.

Ek beloer die twee (volgende week is Nihan hier, ons derde, kan nie wag nie!!) met verwondering. Ek dink aan hoe hulle ontwikkel het van baba tyd af. Ek vind dit asemrowend dat hulle ʼn sin vir humor het, dat hulle al weet hoe om ander om die vinger te draai, dat hulle getuig van liewe Jesus wat baie sterker is as Iron Man, Spiderman en Hulk. Oor Hulk en Jesus twyfel Karlu ʼn bietjie. Hy is nie seker of Jesus sterker is ....dan “bekeer” hy weer. Ja, Jesus kan álles doen.

Ek geniet elke oomblik by hulle. Ek drink dit in. Ek bêre dit waar niemand kan steel nie. Ek leef daaruit. Ek vertel dit tot vervelens aan almal wat wil en soms nie wil hoor nie. Dis meesterlik wat in ons (klein) kinders se lewens gebeur. Pure verwondering. 

Hoe dink jy kyk en voel  God na ons? Dink jy daar is minder verwondering in sy oë as Hy sien hoe ons stelselmatig volwasse word in ʼn  verstaan van onsself, van Hom en die wêreld waarbinne ons lewe? Dink jy nie Hy vestig almal in sy teenwoordigheid se aandag op die handel en wandel van sy kinders nie? Ek dink stellig die Drie Eenheid kuier lekker saam rondom die wel en wee van hul/sy kinders. Hulle (Hy) volg ons ontwikkeling met belangstelling en vreugde.
Ek wil Karlu en Juvan en eersdaags Nihan elke oomblik vashou en beleef.
Ek wil hê hulle moet aan my afvryf. 
Ek kan van hulle nie genoeg kry nie. 
Ek hoor hoe die Here sê..dis hoe Ek oor jou voel. 
Ek kan van jou nie genoeg kry nie......
Jammer jy is so besig!!

Groete

Jannie Pelser
Rant en Dal Prisma

No comments:

Post a Comment