Wednesday 30 May 2018

Silence is golden

As deel van die Pinksterreeks in ons gemeente, Rant en Dal Prisma, Krugersdorp, het my kollegas oor die werk van die Heilige Gees in die ou en nuwe Testamentiese tydperke gepraat. 



Tussen ou en nuwe testament is daar ʼn periode ( inter testamentere periode) waar die stem van die Here vir bykans 400 jaar stil was. Daar is geen verhale van God se handelinge by mense gedurende hierdie periode wat aangeteken is nie. Die sg. apokriewe boeke, boeke wat nie in die Bybel opgeneem is nie maar wel deur Christene gelees kan word bevat ook geen betekenisvolle aanduiding van wat die Gees in hierdie tyd gedoen het nie. Die groot waarheid is egter dat die God se stilte nie God se afwesigheid beteken nie. In Christus Jesus is Hy Immanuel en Hy het op geen stadium opgegee met hierdie wêreld nie. Sy Goddelike plan sal uiteindelik ten volle uitgevoer word. Stilte berei ʼn mens ook voor vir ʼn nuwe beweging en aankondiging van God. Dit vergroot die afwagting. Dit help om ʼn mens by die einde van jou eie probeer te bring en in radikale geloof na God te draai. 

Stilte is nie ʼn slegte ervaring nie. Tye van oënskynlike stilte is ʼn geleentheid om voorraad op te neem, om in die geloof te volhard, om nie te twyfel nie, om koersvas te bly. 

Ons almal ervaar tye van stilte in ons lewens. Tye waarin ons ʼn verdieping beleef in ons soeke na die Here. Sy stil wees beteken nie dat Hy afwesig is en ons aan ons eie lot oorgelaat het nie. Inteendeel. 

Groei is nie altyd sigbaar, waarneembaar en hoorbaar nie. Somtyds is groei gestadig en gestruktureerd. Somtyds kan groei net te midde van stilte plaasvind. Moenie God se oënskynlike stiltes geringskat nie. Hy belowe immers..Ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie. Silence is Golden.

No comments:

Post a Comment