Monday 14 May 2018


“Wat is ʼn huis sonder ʼn moeder”?

Onthou julle ( die meer senior onder ons) die blink gekreukelde papier prente wat op ouma se mure gepronk het en waarop die woorde “wat is ʼn huis sonder ʼn moeder” verskyn het?
Gister was Moedersdag en ek wil ook hulde bring aan die enorme bydraes wat hulle in die samelewing bring.

Alle lewe wat bestaan is te danke aan moeders. Immers, dit is hulle wat geboorte skenk, in die natuur en ook by ons as mense. Sonder mammas is daar geen lewe nie. Uiteraard speel pa ʼn nie te onbelangrike rol in hierdie gebeure nie maar vandag is ons aandag op die skoner geslag.

Interessant dat die eerste mens deur God geskep is. Hy het aste ware   “geboorte” geskenk aan Adam. God is die volmaakte Vader en Moeder. Daar is niks wat God nie is nie. Hy is volledig. Vreemd soos dit mag klink is God die volmaakte “moeder”. Ps. 131 getuig daarvan.  
“Ek het rus en kalmte gevind. Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind”.
Jesus huil per geleentheid oor die halsstarrige ongehoorsaamheid van sy volk Israel.  
MATTEUS 23:37
“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie”!
(God is Gees (gees), nie aan geslagtelikheid gekoppel nie. Moeder en Vader soos Vriend  is metafore om sy natuur mee te beskryf)

Ma wees is ʼn hartsoriëntasie. Jy hoef nie ʼn baba in die lewe te gebring het om ʼn ma te wees nie. Dis eie aan vroue. Hulle sorg en versorg. Selfs in die baie kompeterende wêreld waarin ons woon en werk staan vroue hul plek volledig vol. Te midde van ʼn veelheid van take en help om die begroting te laat klop moet die huishouding ook aandag ontvang.

Elke ma is uniek en elkeen wat hier lees het ʼn storie om te vertel oor die ma in sy of haar lewe. My ma is reeds jare gelede opgeroep vir hoër diens maar ek hoor haar stem klokhelder oor die selfoon as ek haar skakel. Dis in my menswees gedeponeer en ek sal vir ewig dankbaar wees vir so iemand in my lewe. Iemand sê gister vir my dat ons die Onse Vader bid maar ons het dit aan moedersknie geleer. Hoeveel moeders het hul rebelse kinders nie uit die kwaad tot binne in God se Koninkryk gebid nie? Hoeveel doen dit nie steeds nie?
In ʼn besondere sin behoort elke suksesvolle mens te verklaar, dis te danke aan my ma.

Ja, ons ma’s is nie volmaak nie. Wie van ons is? Eie aan menswees het hul ook gebreke en tree nie altyd goed en regverdig op nie. Ons eie kinders sal dit eendag ook van ons kan getuig. Dis die reis waarop ons is.

Dit was die jeugdige Maria wat gekies is om geboorte te skenk aan die Messias. Daardie taak word steeds volbring wanneer die Jesus in ons gestalte kry op grond van ons mammas se getuienis, voorbeeld, omgee en volharding.

Ons salueer ons moeders.

Ps. Ons plaas hierdie week ʼn reeks oor Pinkster vir ʼn stukkende wêreld.
Luister daagliks daarna op die Toekomsvenster app.
Laai gratis  af op jou selfoon


Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment