Tuesday 15 May 2018


Pinkster vir ʼn stukkende wêreld. (Dag 1 van 7)

Hand 1:8
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Die konteks waarbinne die HG uitgestort is.
https://www.facebook.com/ToekomsVenster/videos/1966364046768428/

Prentresultaat vir images pentecost

Die lewe is meermale alles behalwe rooskleurig. Dis ʼn uitdagende wêreld waarin ons woon en werk. Die sonde se nawerking is duidelik in die baie stukkende lewens rondom ons. Die Here wil ons oë open sodat ons die nood sal raaksien en onsself beskikbaar sal stel om iets daaraan te doen.

Jesus het in die volheid van die tyd na die aarde gekom. Dit was nie ʼn ideale wêreld nie. Die Jode het die onderdrukkende invloed van die Romeine terdeë aangevoel. Hulle moes belastings betaal en hulself aan vreemde invloede en manier van dinge doen meet. Daar was ʼn hunkering na bevryding. Daar was groeperings van mense wat probeer het om weerstand te bied. Die selote was een so ʼn groep. Die hunkering na ʼn Messiasfiguur was in der waarheid polities van aard. Nasionalistiese Israel moes bevry word van die vreemde oorheersing. Skaars is die nuwe Testamentiese kerk gebore en hulle is aan ongenaakbare vervolging blootgestel. Dit was nie alleen die Romeine wat hulle onderdruk het nie maar ook die Jode wat as’t ware geboorte geskenk het aan God se Jesus beweging. Dit was baie moeilike omstandighede waaronder die kerk sy weg moes vind. Aangevuur deur die skyn van godsdienstigheid vanuit die geestelikes se geledere moes die jong gemeente van die Here en eksponente soos Paulus wat die Evangelie aktief verkondig het bykans gedurig op hul hoede wees. Die Jode, met name die geestelikes van die dag het alles in hul vermoë gedoen om die lewe van Paulus kort te knip. Selfs aan die vooraand van die hemelvaart vra die dissipels of dit nou die tyd is dat die Here die Koninkryk van Israel gaan oprig. Hulle het die verdrukking aan eie lyf gevoel. Jesus verkondig ʼn ander koninkryk, die Koninkryk van God op aarde. Dit was ʼn bitter pil om te sluk. Daarom staan ook die Jode spottend rondom die kruis vergader, spottend en ontkennend. Hul Hosannas was gemik op die teenswoordige en sigbare. Jesus het gekom om harte vir die Godsryk los ten koop, om tekens van God se alternatiewe bestaanswyse op te rig, om die genade jaar van die Here aan te kondig, om geestelike lewens te vernuwe.

Te midde van hierdie deurmekaar verwagtings en uitdagende kontekste se Jesus dat sy dissipels moet wag op die belofte van die Vader. Daardie belofte word verwesentlik in die uitstorting van die HG. Skielik verstaan Petrus en de dissipels wat die implikasie van die kruis en opstanding van Jesus is. Die juk wat gebreek moet word is die slawejuk van sonde. Dis nie wêreld nie maar geestelik en het implikasie vir die wêreld waarin mense woon. Ons woon ook te midde van gebrokenheid. Ons is nog nie in die hemel nie. Die wêreld het nie wesentlik verander sedert Jesus gekom het nie. Die verwronge vrug van ongehoorsaamheid en opstand teen God se orde is oral sigbaar. Pinkster bring daaraan ʼn verandering. Verstaan jy waarom Jesus gekom het en wat die Heilige Gees in die lewens van mense tot gevolg wil hê?

Jannie

No comments:

Post a Comment