Friday 11 May 2018

Dit is dalk tyd om stil te bly, te luister




Ons geagte staatspresident, mnr Ramaphosa, is maar ook net ʼn mens n.a.v. die optrede in die parlement tydens ʼn vraesessie die afgelope week. Ek dink dit moet irriterend wees om gedurig, en ek weet dit is tipies parlementêre optrede, met uitroepe, opmerkings en tussenwerpsels onderbreek te word. 

Dit is interessant dat mense oor die algemeen positief reageer oor die “nie presidensiële” optrede van nr. 1. Ek het gedink dat die media die volgende dag sou gons en dat vele die president sou weeg en te lig bevind. Die wyse waarop mnr John Steenhuisen, DA Hoofsweep,  dit hanteer het is ook betekenisvol. Hy het duidelik nie aanstoot geneem nie.
Mnr Ramaphosa het natuurlik sonder om te skroom die opmerking terug getrek.

“Shut up” verraai ʼn mate van ongeërgdheid en irritasie omdat mense nie luister nie. Konteks is baie belangrik en moet in ag geneem word.

Binne ʼn vertrouensverhouding waar humor gereeld gebruik word kan jy vir iemand se..”ag, shut up”. Albei partye sal dan lekker saam lag.


Tussen hakies, dis verfrissend om ʼn president te hê wat opdaag vir vraesessies, sy gehoor nie beledig met grinnik en grynslag nie en ʼn parlement wat vir ʼn slag funksioneer.

Terug by “shut up”. 

Kan jy die woorde in die mond van God hoor? Ek wonder of God nie baie naby aan die punt is nie. Ek wonder stellig of Hy dit nie lankal uitroep oor Suid Afrika nie.

As ek deur die koerante blaai voel dit vir my of ons in ʼn gekkeparadys woon. Ek kan die genre van die gebeure nie peil nie. Leef ons te midde van ʼn tragedie of ʼn komedie.

Die woord waansinnig beskrywe dalk wat rondom ons aangaan. Dalk is chaos beter. Gebeure van die dag is kos vir die media. Niemand kan kla dat daar nooit iets interessant in Suid Afrika gebeur nie. Ek vind dit onverkwiklik en tekenend van ʼn samelewing wat koers verloor het. Moord, doodslag, betogings en opstande, grondbesetting, politieke onstuimigheid, elke terrein van die lewe is in chaos. Wat het met ons mense gebeur?

Kan dit wees dat God te midde van die chaos uitroep “shut up and listen”? Dit kan nie so aangaan nie. Het dit nie telkemale gebeur in die Skrif nie?

Waarskuwing op waarskuwing deur die profete wat na die volk van die Here gekom het. Julle kan nie so lewe en dink dat daar  nie gevolge gaan wees nie. Iewers betaal die mense wat hulle aan God se oproep tot orde ʼn hoë prys.
Iewers gaan hulle in ballingskap, word die tempel tot op die grond afgebreek, word die volk slawe van ʼn vreemde moondheid. Die Rigtertydperk is daarvan ʼn goeie voorbeeld. Dit is nie verniet dat die woord “luister” male sonder tal in die skrif voorkom nie. 

Suid Afrika, in die naam van die Here, “shut up and listen”. Hierdie trajek gaan julle by die verkeerde stasie afgooi.

Ek onthou ʼn preek van die legendariese ds. Willie Marais waarin hy vertel dat iemand glo hy is op pad na Bloemfontein maar die trein is op pad na ʼn ander bestemming. God laat Hom nie bespot nie. Nagenoeg 80% van ons land sê hulle glo. Van geloof in die praktyk is daar egter min sprake. 

Ek gee graag huiswerk. Blaai vir een week lank deur die oggendkoerant en hoor hoedat God ongeërg uitroep oor ons mense…”shut up and listen”.
In die mond van God klink dit veel anders as wanneer mnr Ramaphosa dit sê.

No comments:

Post a Comment