Monday 28 May 2018


Die fees van die Gees
Pinkster 7 van 7

As daar een saak is wat Christene moet terugneem van die bose is dit hul vreugde. Wie het ons vreugde gesteel sou ʼn mens met reg kon vra? Sondae so oor die erediens en vergaderde gemeente kyk is somtyds droewig. Dis asof ons die hele wêreld op die skouers dra. Ja, inderdaad is die lewe nie eenvoudig nie. Ek dink nie dit was ooit eenvoudig nie. Altans nie sedert die val in sonde nie. Die sonde geaffekteerde en geïnfekteerde wêreld is daarop ingestel om ʼn mens se vreugde, vrede en hoop te steel. Waarom laat ons hom dit toe sou ʼn mens met reg kon vra? Jesus het immers ʼn volkome prys betaal. Die graf is leeg. Die troon is bestyg en die HG is uitgestort.
Petrus sit in die tronk. Dis nie lekker nie. Ek vermoed die tronke van destyds was ver verwyderd van die rehabilitasie sentrums van ons dag. Hier en daar vind ʼn mens nog tronke waar mense onder haglike omstandighede aangehou word. Dit was waarskynlik die situasie in die nuwe Testament ook. Geketting en bykans nie beweeglik nie tussen soldate wat moet waak.
Die gemeente bid ernstig vir hul mentor. Daar is ʼn aardbewing en die kettings val af. Petrus gaan reguit na die huis waar die versamelde gemeente bymekaarkom. Die diensmeisie  kan haar oë nie glo nie. Die mense dink hulle sien  ʼn spook.
Antwoord God dan regtig gebed? Hoor Hy ons inderdaad?
Paulus sing lofliedere waar hy homself in gevangenisskap bevind. Menige martelaar het met ʼn loflied op die lippe die brandstapel betree. Ek kan my dit nie indink nie. Kan ʼn mens so vreesloos die dood in die oë staar?
Miskien gee God besondere genade in daardie omstandighede. Die geloofshelde het te midde van gevare en worsteling die geloof nie prysgegee nie. Hulle het hul uitgestrek na die belofte. Dit was so reëel dat hulle in die gees reeds die goue strate van die hemelse Jerusalem kon stap.
Vreugde het hulle gedra. Nie laf en doelloos nie. Eg en geestelike vreugde.
Paulus roep juis die gemeente op. “Verheug julle in die Here, verbly julle. O diepte van die wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele”.
Hoe gee jou lewe blyke van vreugde in die Here?
Sou mense op grond van die wyse waarop jy jouself te midde van die slegte dinge?

No comments:

Post a Comment