Monday 21 May 2018


Pinkster vir ʼn stukkende wêreld.

Deel 4 van 7


Die hele spektrum word aangespreek

Die bemagtiging wat die Gees bring is omvattend en insluitend. Dit rugsteun die reënboog genade van God. Alle moontlike scenario’s word daarin aangespreek. Menswees in sy totaliteit word  ingesluit onder die bemagtiging en bediening van die Heilige Gees. Soos Jesus tydens sy aardse bediening die veelheid van menslike behoefte aangespreek en bedien het, geestelik, emosioneel en materieel, gaan die Gees voort om tekens van God se hemelse ryk op aarde te vestig. Liggaam, siel en Gees in hierby ingesluit.
Die spektrum word gedemonstreer in die na uitstorting van die Heilige Gees se werksaamhede van die apostels. Duiwels gaan uit mense uit, dooies word opgewek, siekes word genees, selfs die skaduwee van die apostels is genoeg om genesing te bring. Ook op praktiese plak word die omvattende bediening van die Gees demonstreer. Mense neem verantwoordelikheid vir mekaar. Reik uit na mekaar en dien mekaar.
Die gevaar is groot dat mense in een van die vele dimensies van menswees sal opgaan en die ander sal verwaarloos. God se plan sluit die hele mens in. Om in die geestelike te disintegreer is wêreldvreemd en wêreldvermydend. Deur die eeue was daar mense wat hierdie "raak nie, smaak nie" houding probeer leef het. Dit bring niemand nader aan Jesus nie. Die idee is juis dat die Evangelie onder aanstigting en aansporing van die Heilige Gees ander bereik. Wie van die fisiese ʼn afgod maak kom ewe bedroef daarvan af. Wie die emosionele oorbeklemtoon ten koste van die ander raak geestes- siek. Daar is ʼn delikate samehang tussen liggaam, siel en gees. Die een groei op die ander. Die siels dimensie vernuwe aan die hand van dit wat in die gees gebeur het en die liggaam gee daaraan uitdrukking. Die Gees is by elke faset van die lewe betrokke. Die tweedeling, geestelik en iets anders is van ʼn ander wêreld en ideologie. God stel net soveel belang in my handel en wandel as in my stilword en afsonder om Hom te ontmoet. Die Gees bemagtig dat die mens se voete ander agterna kan loop, jou hande kan help en ondersteun, jou oë aanvaarding kan toon.

Jannie Pelser
Ps. Doen nou navraag oor ons nuwe dagboek " Laat U koninkryk kom" deur ds Colin Smith.
www.toekomsvenster.co.za
011 6652017




No comments:

Post a Comment