Tuesday 22 May 2018


Die Gees in 2018 steeds werksaam

Kan dit wees dat die Heilige Gees mense in dieselfde mate wil en kan bemagtig vir die tyd waarin ons lewe?
Doen die Gees van die Here nog wat plaasgevind het met die ontstaan en uitbreiding van die nuwe Testamentiese gemeente?
Was die buitegewone werking van die HG beperk tot die eerste geslag Christene en gemeentes net om die bal spreekwoordelik aan die rol te kry.
Daarmee saam waarom sien ons so min tekens van Geesvervulde lewens?
Waar is die wonders en tekens wat Nuwe Testamentiese gemeentes gekenmerk het?
Dan weer is daar gerugte van ongewone optrede deur die Gees maar gemeenskappe verander nie. Die wêreld bly soos hy is. Terwyl sommige gemeentes melding maak van die bo natuurlike werking van die Heilige Gees loop daardie gemeentes ook uiteindelik leeg en gooi hulle die handdoek in.
Wat moet ons dan glo van die Heilige Gees en hoe relevant is Hy vir ons tyd?
Die Gees se werking word nêrens in die Skrif aan ʼn bepaalde tyd gekoppel so asof dit net die wegspringblokke is vir kerk wees in hierdie wêreld nie. Die belofte “Ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld” is ter sake. Niks kan ons nooit vervreem behalwe hardnekkige sonde van die immer teenwoordige God drie enig nie.
Dit is die ewige lewe sê die Woord dat die Vader, Seun en Heilige Gees intrek neem in die hart en lewe van die gelowige. Hy is Immanuel, ook in en deur die Heilige Gees.
Dwarsdeur die geskiedenis van die kerk was daar tye van geestelike oorvloed en manifestasie deur en van die HG en tye van insinking en droogte. Dit is sekerlik nie God se bedoeling nie maar hang saam met die mens se onvermoë om volhoubaar in die dampkring van God se Geesgenade te leef. Iewers taan die energie en wil om so voort te lewe. Die koue tree in en die kerk raak weer ongeloofwaardig en stukkend. Israel is daarvan ʼn goeie voorbeeld. Tye van geestelike hoog bloei gevolg deur tye van afsydigheid en verval. Die gevolg van dié geestelike agteruitgang speel uit in  swaarkry en sukkel. Wanneer die Godsvolk genoeg gely het onthou hulle aan wie hulle behoort en waartoe Hy Hom verbind het. Hulle onthou die tye van hoogbloei en begin daarna verlang. Hier en daar begin gebedsgroepies die aangesig van die Here soek. Op ʼn dag breek die Pinkstervuur in die harte van mense in . Nuwe herlewing word gebore. God doen weer wonders en tekens en magtige dade. O, hoe smag ons nie daarna nie. Die tyd was seker nog nooit so ryp vir ʼn nuwe Godsverskyning nie. Soos in Elia se tyd is mense nie meer seker dat Hy is wie Hy se Hy is nie. Hulle loop op ʼn geestelike twee spoor. Hulle dien die wêreld en vir God. Albei bly in die slag. Dis tyd van keuse uitoefen. Dis tyd van beslissing maak. Dis ʼn kairos oomblik, ʼn oomblik van waarheid. Die Woord sê God vind louwarm geestelike lewens nie aanvaarbaar nie. Hy spu dit uit sy mond omdat dit na niks smaak nie. Sal ons die Here nie weer aangryp nie? Sal ons Hom nie vertrou vir ʼn nuwe geestelike ontmoeting van en met en deur die Heilige Gees nie?


Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment