Monday 28 May 2018


Pinkster 6 van 7

Beweging deur die Gees


Die Gees is vir almal. Hy is rojaal teenwoordig aan wie ook al aan Hom woning sal bied. Die Gees word nie beïndruk deur boeke kennis en ander gawes nie. Hy gee die gawes. Die Gees word beïndruk deur ʼn gebroke gees wat honger en dors van die geregtigheid. Hy wil die ware gelukkiges van Matt 5 bedien en bemagtig.
Daar is dryf in die HG. Dis vanuit rus weliswaar en inderdaad. Dis nie onrustig en negatief gedrewe nie. Dis ywerig en onstuitbaar in sy voorneme om hierdie wêreld van geestelike slawerny te verlos en los te ruk.
Die woordjie “beweging” kenmerk die lewe van ʼn gelowige. Daar is progressie en vooruitgang in en deur die Gees. Daar is ʼn diepe verlange om meer en meer deur die Here gebruik te word. Geesvervulde Christene bid die gebed van Jabes met vrymoedigheid en oorgawe. “Vergroot my grondgebied Here, vergroot dit tot U eer”. Hulle leef entoesiasties soos ʼn Josua, aangevuur deur die belofte. “Elke plek waar jy jou voet sit sal ek aan jou gee”.
Geesgedrewe Christene daag hul eie en die gemaksones van ander mense uit. Hulle vervul hul profetiese funksie as hulle “so sê die Here” verkondig. Hulle bestraf in Jesus Naam elke voorkoms van onheil en sê die slegte die stryd aan. Hul staan geklee in die volle wapenrusting van God, gereed om die slagveld te betree. Hulle loop voor saam met Jesus in die triomftog oor die bose.
Christene wat deur die Gees bemagtig is kan nie met die wêreld soos Hy is vrede maak nie. Hulle fokus is ʼn beter wêreld, nie mens gemaak nie maar Gees geskep. Hulle verkondig die herskepping in Christus Jesus ons Here en die realiteit daarvan vir mense se lewens.
Geestelike tamheid is nie eie aan ʼn kind van die Here nie, dis geprojekteerde moegheid. Die Gees bemagtig en energeer God se kinders. Dit kan ook nie anders nie. Toe God by die skepping die chaos aanspreek kom die Gees van die Here wat op die waters swewe in beweging en bring orde in die magte wat die wêreld onderwerp het. Stelselmatig kom ʼn nuwe orde tot stand, die Koninkryk van God op aarde. Dis waarvoor kinders van die Here hulle beywer.

No comments:

Post a Comment