Wednesday 4 April 2018

Weet jy is!!

Ek kyk gisteraand ʼn ou bekende fliek genaamd, The Matrix. 

Morpheus wil Neo sekere waardevolle lesse leer en hy word in ʼn Kung FU gevegsituasie ingetrek. Morpheus behou dIe oorhand waarin hy vir Neo vra of hy weet wat die probleem is. ( Morpheus merk op “your problem is not technique”)

Neo antwoord dat Morpheus te vinnig is. Morpheus maak ʼn appél op Neo se vermoë om buite sy limiete en fisiese vermoë te dink. “What are you waiting for?”, vra hy vir Neo. “Don`t think you are, know you are” (faster).

Neo kry die oorhand oor Morpheus. 

Die film het verskeie raakpunte met die wêreld waarin ons woon en laat ʼn mens nadink. (Die misbruik van die Here se naam pla egter ontsettend baie. Dis weer hoogmode om die naam van die Here vir effek te misbruik. Wat ʼn vertoon van artistieke armoede en gebrek aan kreatiwiteit). 

Nietemin, daar is ʼn groot verskil tussen “dink en weet ”



“Dink” is nie  ʼn geloofsuitspraak nie maar vertroue in die self. Anders vertaal , “ek dink ek kan”. Die fokus is die persoon wat die uitspraak maak. Natuurlik is dit belangrik om jou eie vermoë en potensiaal, ontwikkeling en gereedheid om ʼn sekere taak te onderneem, deeglik te moniteer. Niemand weet beter as jyself nie. Voortydige optrede is net so gevaarlik as te laat. Mens wil nie ʼn gek maak van jouself en bespot word nie. Selfkennis is noodsaaklik.

Binne die konteks van die film egter is die oproep van Morpheus betekenisvol. “Weet jy is” (vinniger).
Vir Christene is hierdie wete nie gegrond in menslike vermoë nie maar in die transendente krag en instaatstelling van Iemand groter as jy.
Vir ons as Christene is die antwoord God drie enig. 
Die Bybel sê immers..I can do ALL things through Christ Jesus who strengthens me. Ek is TOT ALLES in staat deur Hom wat vir my die krag gee.

Ons probleem is nie ʼn gebrek aan selfvertroue nie maar eerder ʼn gebrek aan Godsvertroue.
Beide is belangrik en noodsaaklik maar die een werk met “moontlik” en die ander met “Hom-moontlik”.

Hy wat die dood getroef het, (so het ons verlede Sondag fees gevier), is ook die Een wat sy kinders buitegewoon bemagtig (dunamis-pinkster) deur die Heilige Gees.
Dalk het dit tyd geword dat ons ons belydenis verander. 
Ek weet ek kan/is!! 

Weet wat God van jou vra en vertrou Hom om, nadat jy jou huiswerk en voorbereiding deeglik gedoen het, die onmoontlike (eksponensieel meer) deur jou te doen omdat jy sy Woord onverbiddelik glo.

Groete

Jannie Pelser


No comments:

Post a Comment