Thursday 5 April 2018

Aktueel

Aktueel

Die Bybel help ons om ʼn sinvolle en Godverheerlikende lewe te lei deur belangrike lewensbeginsels daar te stel. Die liefde is die begronding van alle beginsels. In verband met die liefde word baie dinge gesê. Dink maar aan “ʼn nuwe gebod gee Ek julle. Julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefgehad het”. 
Julle moet mekaar niks verskuldig wees nie behalwe om mekaar lief te hê.
Wie sy broer nie liefhet nie is ʼn moordenaar. 

JOHANNES 13:34
Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
ROMEINE 13:8
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.

In effek sê die Woord Evangelie en liefde is sinonieme met mekaar. Immers, God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie maar Hom oorgelewer het om ons almal te red. Jesus stel ʼn navolgenswaardige voorbeeld daarin dat Hy op die vooraand van sy kruisiging sy dissipels se voete was. (Joh.13)

Ek vind die uitspraak “die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie, daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet”, die beste konkretisering van die liefdesbeginsel.  

ROMEINE 13:10
Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Wie liefde leef voer die hele wet van God uit. 
ROMEINE 13:10

Die liefde doen die naaste géén kwaad aan nie. 
Konsekwent toegepas, as dit kwes, seermaak, beledig, beskinder, aftakel, is dit nie liefde nie.
Wie liefde so interpreteer is op ʼn dwaalspoor. 

Rassisme is ʼn dwaalspoor en is nie liefde nie. Inteendeel, dit verteenwoordig alles wat liefde nié is nie. Wie hom daaraan skuldig maak en dit konsekwent willens en wetens doen verstaan letterlik níks van liefde nie. 1 Kor. 13 is ʼn praktiese les oor die liefde. 
Dit glo, hoop en verdra alles. 
Net liefde bly. 



Gedurende die afgelope week is die wêreldbekende en veelbesproke Winnie Madikizela-Mandela, eertydse eggenote van Nelson Mandela, oorlede. Haar naam wek vele emosies en gewaarwordinge, sommige negatief.
Feit van die saak, sy verteenwoordig vir baie mense hul strewe na menswaardigheid. Sy het onder baie moeilike omstandighede nie alleen hul kinders grootgemaak nie, maar self die volle spektrum van vernedering, marteling, opsluiting asook verbanning beleef...en sy is ʼn vrou. 

Dat sy ʼn skadukant gehad het, is eweneens so. Dis openbare kennis. Dis egter nie vir my om haar te kritiseer of postuum te verneder nie.
Die ander dame wat oorlede is is die bekende ontwikkelaar Pam Golding. Weereens ʼn merkwaardige dame wat ʼn merkwaardige sakeryk opgebou het.

Ek lees twee inskrywings op sosiale media raak. ʼn Bekende joernalis skryf.

“Ek lees so deur al die kommentare op die omstrede Winnie se lewe wat mense op sosiale media kwytraak. Ja, sy was op baie gebiede omstrede. Dit weet ons. Die helfte van vanoggend se sms'e aan RSG kon hulle nie eers uitsaai nie. Die haat was net te erg. Sy was ook nie mý heldin nie. Maar ek kan nie help om te wonder hoeveel Stompies ons nie al onder ons eie voete doodgetrap het nie, al was dit figuurlik. Hoeveel Stompies trap mense nie vandag steeds dood met hulle kommentaar nie. Wie van hulle was dààr? Ja, ek ken ook die storie en praat niks wat sleg was goed nie. Ek wonder maar net stilweg, hoeveel Stompies trap ons nie dood sonder dat ons dit besef nie? Vergeet 'n oomblik van haar en tel die Stompies onder jou eie voete. Dis dalk nie 'n slegte begin nie. Goed, nou moet ek seker koes voordat ek ook 'n dooie Stompie word. Ek wonder maar net of Stompie nie sou geleef het vandag as dinge anders was nie”.

ʼn Ander een
“I saw more hatred in two days in South Africa than ever before, from white and black people, and that with the death of two woman, #WinnieMandela and #PamGolding.
I am ashamed. 
The only place I find comfort is before God who sees our hearts”.

Waar kom al die venyn vandaan?
Wat is dit met die mense van Suid Afrika?
Waarom ondergrawe ons ons eie toekoms en die van ons kinders onbeskaamd?

Dit is asof ons daarop ingestel is om mekaar te vernietig. Ja, ek weet ek praat met ʼn sekere segment van die samelewing, Nie almal is skuldig nie. Wie sy kinders nie leer om lief te hê en ʼn voorbeeld stel in die verband nie versaak sy kinders.

My ander helfte sê dit so mooi. 

Ons het nodig om die witvlag te hys, al die rolspelers in ons stukkende land. Ons het nodig om ons strydbyle te begrawe en vooruit te gryp na die dag waarvan Jesaja praat wanneer van wapentuig landbou implemente  gemaak word.

JESAJA 2:4
Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.

Ons het nodig om meer te doen as jammer sê. Ons moet jammer leef. Jammer is ʼn leefstyl, dis nie ʼn oomblik gou vergete nie. Jy kan nie jammer sê en iets anders leef nie. Jammer is liefde in praktyk. Jammer gaan op reis met inisiatiewe wat daarop gerig is om reg te maak wat stukkend geword het toe liefde in haat, vooroordeel, agterdog en vrees paradeer het. Dis tyd om jammer te leef. Al die mense van ons land het ʼn verantwoordelikheid teenoor die toekoms. As ons nie vinnig draai nie kan dit te laat word.

Groete
Jannie Pelser

No comments:

Post a Comment