Tuesday 24 April 2018

Frustrasie

Daar is nie een van ons wat nie weet van frustrasie nie. Frustrasie is wat gebeur wanneer jou planne in die wiele gery word. Ek het pas die ervaring dat ʼn afspraak geskuif word en dat dit my hele beplanning na die maan stuur. Dit verontrief my geweldig en maak dat ek nou “alles” moet skuif en herbeplan net om hierdie skuif te akkommodeer. 



My planne en beplanning.
My gerief en my dagboek. 
My frustrasie. 

Ai, nogal opmerklik hoe dikwels die woordjie “my” in jou verduideliking van waarom die spesifieke saak jou so ontstel gebruik word. “My” lewe word op sy kop gekeer en ek is darem redelik...belangrik!
Ek wonder of ons nie baie gesonder sal leef as ons vanuit ʼn God weet beter, Hy het ʼn plan, Hy is ook hierin met my en ons op pad. Dis nie die einde van die wêreld nie en ook nie die “dood van Jairus nie” , om ʼn vriend van my se aanhaling te gebruik. 
Ongerieflik? Ja. 
Die einde van die wêreld? Nee. 
Die moeite werd om daaroor te begin kla en mor en baklei en wie weet wat alles? Duisend maal nee. (Natuurlik praat ek nie van moedswillige en ongedissiplineerde optrede wat aan slegte dienslewering van iemand wat daarvoor vergoed word grens nie. Ons het nodig om mekaar hierin op te skerp.)

Vanoggend se oproep en die nuwe reëling is regtig ʼn uitdaging, ek stry nie daaroor nie.
Het God dalk ʼn plan daarmee? 
Bewaar Hy my van iets? 
Weet Hy altyd beter? 
Kan ek Hom vertrou? 
Nog meer, is die leë spasie in my dagboek waar daar ʼn afspraak was onwelkom? Nee, ek het daardie spasie baie nodig.
So, dan reël ons maar ʼn ander geleentheid. 
Ons sal wel daarby uitkom.

No comments:

Post a Comment