Monday 23 April 2018

Druk daai drie

Druk daai drie

Ek weet bitter min van sport af maar troos my dat ek jou darem kan wys waar middel C op ʼn klavier is en desnoods Vader Jakob daarop kan tokkel. Ons het immers almal verskillende gawes en talente. Dit beteken nie dat en nie ʼn lojale Blou Bul is en opgewonde is dat hul opmars weer begin het nie. Burger Odendaal is ʼn gemeente seun en boonop is sy ouers baie goeie vriende van ons ( nou Kapenaars). Die foto van hom en die klein seuntjie in gebed op die veld is aangrypend.



So luister ek na ʼn uitsending van ʼn wedstryd verlede Saterdag op pad na ʼn lekker uiteet saam met my geliefde. Dit val my op hoe opgewonde die kommentator raak wanneer daar iets op die veld gebeur. (Hoe die manne elke speler se naam ken gaan my verstand te bowe. Ek wens ek het die talent gehad om name te onthou. Ek was al rooi gesig van skaamte omdat ek in die lug hap wanneer ek veronderstel was om die persoon se naam te ken).

Terug by my gedagte – die persoon wat die wedstryd uitsaai kan nie genoeg woorde  vind om te beskryf wat aan die gebeur is nie.

In my verbeelding sien ek n speler hardloop  met die bal ( en hy hardloop in die regte rigting, nie soos ons kleinkinders nie)  en daar is genoegsame ondersteuning te midde van die ander span wat alles in hul vermoë doen om te verhoed dat punte aangeteken word. Die bal word vernuftig van een persoon na die volgende aangegee terwyl op die doellyn afgepyl word. Die skare kan hul entoesiasme nie beheer as die persoon op die doellyn afduik nie. Vir ʼn oomblik hang hy tussen hemel en aarde en land dan triomfantelik onder die pale. Daar is huiwering totdat die skeidsregter verklaar, dit is inderdaad ʼn drie. Dan nog die oorskop en twee verdere punte staan op die telbord.

In my geestesoog sien ek hoedat die skare geloofsgetuies waarvan Hebreërs 12 praat die wedstryd wat tans op aarde uitspeel, aanskou. Dit is wanneer die kerk, kinders van die Here, op die doellyn afstorm met genoegsame ondersteuning, mekaar, die Woord en die Heilige Gees,  om die vyand op sy plek te hou, en keer op keer punte vir die Koninkryk aanteken dat die skare hul opgewondenheid nie kan beteuel nie. Dit is waarmee die kerk op ʼn daaglikse basis moet besig wees.
Punte aanteken vir die komende Ryk van God. 

Mense by Jesus uitbring, uit die hande van die bose ruk en in elke samelewingsverband die Koningskap van Jesus verklaar dat die kerk en elke gelowige doen waarvoor hul bestem is.
Is daar enige opgewondenheid op die pawiljoene wanneer na jou en my  spel gekyk word?

No comments:

Post a Comment