Wednesday 25 April 2018

“Tref hulle met ʼn b-straal”

Ek blaai vanoggend deur die oggendkoerant. Dis ʼn onverkwiklike en ontstellende  ervaring. Die voorbladberig het te doen met die bekende diere liefhebber en beskermer, Louise Joubert,  wat uiteindelik net handdoek ingegooi het teen die gewetenlose slagting van renosters, ens. Hartseer en moegheid  het waarskynlik tot haar dood gelei. Die intensiteit van die aanslag word verwoord in die voorblad artikel as haar bedroefde man vra “hoe bied jy weerstand teen helikopters en stropers met swaarkaliberjaggewere” , ʼn metafoor vir hoe gewetenloos en bereken onreg uitgevoer word.




Die redaksionele kolom berig weer oor die seuntjie wat by sy skool in ʼn put toilet verdrink het. Daar is ʼn berig van ʼn boer wat wonderbaarlik aan die dood ontkom het toe rowers hom op pad “kerk toe” aangeval en mishandel het.

Onderduimsheid, bedrog, misdaad, geweld, mishandeling, verkragting, onreg, mense regte vergrype, korrupsie, moedswilligheid en iets hier binne my kom in opstand.
“Here, tref hulle met ʼn bliksemstraal” bid ek hardop. 

“Hoe lank gaan U nog die onreg en onregverdigheid aanskou voordat U ingryp? Wanneer gaan U die misdadigers, verkragters, kwaadstokers, korruptes en hardkoppiges in geen onseker terme aanspreek en tot verantwoording roep nie? Ons het genoeg gehad. Ons kan nie meer nie”. 
 “Here, “tref  hulle...”

Dan besef ek dat ek ook sal omkom. Die sonde kleef ook aan my. Was dit nie vir God se genade nie was ek vandag verlore en desnoods een van die gewetenlose mense van wie ek hier skryf. As ek dan weer deurblaai sien ek ook talle goeie nuus stories, van God se Koninkryk wat op baie plekke deurbreek. Ek lees van omgee en liefde, van uitreik en vashou. Straatbewoners wat versorg word, opkomende boere wat bemagtig word, geleenthede wat gebied word, mense wat gee totdat dit seermaak.
“Ek wil deel daarvan wees” prewel ek.  

Dankie vir genade onbeskryflik groot. U het dit aan my bewys. U het my hart verander. U kan dit ook doen met die mees gewetenlose krimineel wat op aarde rondloop.  

Ps. Sonde het nie kleur nie. 

No comments:

Post a Comment