Monday 9 April 2018

God se wind

Die wind waai vandag hier waar ek myself bevind. Met die oog op ʼn bietjie skryfwerk is ek by myself en by die see. Ek hou van vroeg oggend oefen en het vanoggend met die draf saam die wind van agter en voor gehad. 
Wind is ʼn metafoor wat die beweging en misterieuse werking van die Heilige Gees aandui. Ons is juis op weg na Pinkster waar ons weer intens bewus word van die dinamiese werking van God se Gees. Daar is ander metafore wat vir die Gees gebruik word soos olie, vuur, water, wolk om maar ʼn paar te noem. 
“Die wind van agter en die wind van voor”. 



Dié wind-ervaring het my herinner aan die besondere werk van die Gees in ons lewens. Die Gees help ons in ons roepingsbelewing. Daar is nie ʼn enkele Christen wat nie deur God geroep is nie. Die besondere gawes wat die Heilige Gees gee is ʼn bevestiging daarvan. Die meeste van ons het ʼn veelheid van gawes, ʼn gawekombinasie wat ons besonder geskik maak vir sekere take. Ons is nie dieselfde nie en ʼn belangrike deel  van die reis bestaan daarin om uit te vind presies waarvoor die Here jou roep. Dit impliseer ʼn ernstige en volgehoue  soeke na antwoorde in die verband. 
Ons wil nie leë hande voor die Here staan nie. 

Soos die wind “van agter” ʼn mens as’t ware ʼn huppel in die stap gee, jou vinniger, energiek en met entoesiasme  laat beweeg, so roep en  bemagtig die Heilige Gees ons in ons roepingsvervulling. 
Die wind van voor keer dat ons oorhaastig in ʼn ding instrompel sonder om die implikasie daarvan behoorlik te deurdink. Ook in diens van die Here kan ons voortvarend wees en die saak meer skade berokken as goed. Daar is ʼn manier van doen  en ʼn seisoen vir alles in die lewe. 
Paulus bid juis dat die gemeente ʼn g(G)ees van onderskeiding mag openbaar. 
Dit is so dat ons somtyds meer bewus is van die wind van voor as van agter. Dit mag ons daartoe bring om God te bevraagteken, veral as ons moeite ondervind om wat ons verstaan ons moet doen, inderdaad deur te voer. 

Beweeg berekend en onderskeidend. 
Wag eerder as oorhaastig wees. 
Bid nog ʼn keer en toets of die saak regtig van God is. 
Praat met ander daaroor en wees dankbaar dat die Here jou dalk weerhou van dwase optrede. 
Dit beteken uiteraard nie dat jy sondermeer handdoek moet ingooi nie. 
Somtyds toets die Here ons gehoorsaamheid, volharding en doelgerigtheid. Onderskeiding (weereens)  is nodig en dit kom deur inoefening en vertroue. 
Mag jy vandag die Gees, die wind van God beleef. 
Voor of agter, Hy is met jou en die wêreld op pad. 

JOHANNES 3:8
Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” 9    

Fil. 1:9 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling,10         
sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. 
Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees,

No comments:

Post a Comment