Monday 27 July 2020

Loof die Heer

Maandag

Loof die Here
Ps.150

1             Prys die Here! Prys God in sy heiligdom, prys Hom hier onder sy magtige hemelgewelf!
2             Prys Hom oor sy kragtige dade, prys Hom in sy magtige grootheid!
3             Prys Hom met die ramshoring, prys Hom met harp en lier!
4             Prys Hom met tamboeryn en koordanse, prys Hom met snaarinstrumente en fluite!
5             Prys Hom met simbale, prys hom met galmende simbale!
6             Laat alles wat asem haal, die Here prys! Prys die Here!



Dit is ʼn groot gemis dat ons as gevolg van Covid-19  nie spontaan en in groot getalle bymekaar kan kom om die Here te loof nie. Ai, is daar iets lekkerder as ʼn gemeente wat onder bekwame begeleiding hartlik en uit volle bors sing? Dit is asof jy uit jou stoel gelig word ( as jy nog hoegenaamd sit) en hande omhoog die God van hemel en aarde besing.

Daar is boonop die mooiste liedere beskikbaar wat die lof van God verwoord.
Ons verteenwoordig verskillende denominasies en agtergronde, ons het ʼn voorkeur vir bepaalde liedere en is gemaklik met ʼn manier van loof en prys. Uiteraard is dit elkeen se voorreg om die Here te loof en te prys soos dit in sy hart is.

Dit beteken egter nie dat ons mekaar moet kritiseer nie. God hou van verskeidenheid (kyk maar net na die natuur) en dit sou ʼn saai wêreld gewees het as ons almal alles op dieselfde wyse gedoen word. `ʼn Mens se geloofslewe word egter oneindig verryk as ʼn mens bereid is om jou verstaan te verruim  en ook ander maniere van dink en doen te oorweeg.

Die Psalmdigter is baie opgewonde oor die grootheid van die Here. Elkeen denkbare instrument word nader getrek om die Here te besing.

Verskillende boeke veral in die ou Testament vertel ons van die omvattende voorbereidings wat getref is vir die gebeure by die tempel waarvan die aanbidding van die Here sentraal was. As ʼn mens die gedeeltes lees word dit duidelik dat net die beste goed genoeg was vir die liturgie.

Iets wat sommer saamgeflans is, sonder deeglike beplanning, voorbereiding en inoefening, is nie oorweeg nie.
Die musikante en sangers was kunstenaars in eie reg en het onder leiding van die koormeester groot moeite gedoen om ʼn aangename geur te versprei.

Lof en aanbidding in jou persoonlike omgang met die Here is deesdae die aangewese. Selfs met die vergunning dat eredienste met 50 en minder mense kan voortgaan het baie gemeentes besluit om ten minste vir die koue maande tradisionele bymekaar wees op te skort.

Die erediens is die een plek waar ʼn mens nabyheid soek. Dit is altyd so aangenaam om te sien hoe mense mekaar spontaan groet, omhels en soen. Immers, kinders van die Here is mos familie.

Mag ons gou weer die geleentheid hê om sonder maskers en afstand voor die Here se troon te vergader.
Tot dan bly ʼn persoonlike aanbiddingsverklaring kosbaar en die aangewese.
Loof Hom met alles wat jy het.

No comments:

Post a Comment